Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Die ego

Afrikaans is ryk aan spreekwoorde – so ryk dat daar soms ‘n hele rits uitdrukkings is om dieselfde ding mee uit te druk.

Herrie dink aan veral drie – om aangeklam te wees, om riem te spring en om rooi hakskene te hê.

Iemand is byvoorbeeld gekoring, aangeklam, loop vier rye spore, het tiermelk gedrink, in die vat geval, ‘n stywe dop gesteek, die vrou met die stywe nek gekus, en so aan. Iemand wat slae kry kan ook ‘n paar van die bestes weg hê, siepsop opdoen, en so aan.

Iemand met rooi hakskene loer ook soms oor die onderdeur, het die skoot hoog deur…

Die mense van een van Herrie se gunstelingprogramme op die Radio, Sterre en Planete, hou eersdaags een van hul ekskursies na Herriesmit, ekskuus, Harrismith se Platberg. Een van die aanbieders, prof. Matie Hoffman, kom al ‘n lang pad met Herrie saam. Van skooldae af, die KJA, en toe ons beide in Pretoria in ballingskap was. Herrie en Matie stam ook altwee regstreeks van oud-pres. Biskruit Hoffman se pa af.

Nietemin, onder Herrie se voorsate tel ‘n baie sterk De Necker wat een kant van Platberg gewoon en geboer het, met die dorp en die kroeg aan die anderkant. Dus het die oom se perd naderhand toe-oog oor daai berg kon loop.

Tot eendag. Bo op die berg, kom hy op ‘n draadheining af wat die eienaar sonder vooraf notisie loop span het. Die oom kom dus ‘n ruk later as gewoonlik by die oog aan. Die manne verneem na sy teenspoed.

“Het jy die draad geknip” wil een weet.

“Nee, ek het sommer die perd oorgetel.”

Nietemin, vertel ‘n oud-kollega, sy suster neem haar eerste ernstige kêrel saam plaas toe. Die plaas is naby Bethlehem teen ‘n rits holkranse en klowe.

Die kêrel en die ervaring is nuut, en dus is sy die ene selfbewustheid.

Naby die opstal is ‘n hek, en aangesien die kêrel bestuur, gaan maak sus die hek oop. Dis toe sy iemand in die middel van die koringland langs die pad sien hurk. Sy vermoed onraad.

“Kan ons help?!” roep sy. ‘n Stem kom terug, maar de wind waai die woorde weg. Sus stap nader, en roep weer. Weer waai die wind die stem weg.

Sy stap nog nader.

Dié keer dra die man se stem wel deeglik terug tot by sus, en tot by die kêrel wat in die kar die petalje aanskou. “Miesie, ek k*k!” kom die benoude stem.

Dit blyk ‘n trekkende skeerder te wees.

Die volgende oggend is die selfbewuste verleentheid vergete, en sus gaan wys vir die kêrel een van die mooiste klowe. So ‘n ent in, sê sus dié kloof het die mooiste ego. Om te demonstreer, roep sy die kloof in, en by gebrek aan iets anders, roep sy: “Haai, wat maak jy?!”

Saam met die ego kom ‘n ergerlike stem terug: “Miesie, ek k*k!”

Magtag, kan ‘n mens dan nêrens op die plaas die nood in vrede verlig nie.

Herman Toerien