Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Die edeles ontval

Kort op die nuus dat oud-minister Piet Badenhorst na sy permanente tuiste vertrek het, kom die nuus dat oud-premier Winkie Direko ook haar tassies vir die laaste reis gepak het.

Herrie se paaie met dié van oud-minister Badenhorst het ook ‘n spoor deur die Oos-Vrystaat geloop. Dié dag moes Herrie skielik instaan as privaat sekretaris, chauffeur, lyfwag, toespraakskrywer – en geselskap. Want Piet was ‘n mens-mens, en bitter min mense het nie vir hom as lekker geselskap gedeug nie. (Lees Herrie se huldeblyk aan Piet Badenhorst by http://hermantoerien.posterous.com/afsterwe-piet-badenhorst )

Herrie het nie werklik regstreeks met Winkie te make gehad nie. Die naaste was seker toe Herrie met haar personeel moes skakel om die hoofrede by die provinsiale bekendstelling by die nasionale sensus destyds te lewer.

Die groot dag was Winkie laat, en daar is geskarrel om te kyk wie gaan instaan, maar toe was Winkie daar en sy val weg. Sy het van Senekal af teruggekom waar ‘n boer pas vermoor is. Die familie en plaaswerkers se hartseer, en die lot van die werkers wat nou in alle waarskynlikheid hul werk kwyt is, het haar vreeslik aangegryp.

Die dag het sy dinge in haar ontsteltenis gesê, soos ook by minstens een ander geleentheid gebeur het, waar die ANC ontken het sy het gesê wat sy gesê het. Sy voel dat die polisie sommer plaasmoordenaars moet doodskiet voor hulle toegesluit word, het sy emosioneel gesê. Daardie boodskap het oor die wêreld gehardloop, maar gelukkig het van die media wat teenwoordig was, darem genoem sy het dit tyde van die bekendstelling van die sensus gesê. (En Herrie beloof hy het nie daai deel in haar toespraak ingeskryf nie, al sou Herrie dit graag doen, na plaasmoordenaars die klein skraal buurseun Henkie met masjiengewere aan flarde geruk het).

Herrie sal ‘n moordkuil van sy hart maak as hy ontken dat daardie woorde soos tjoklits gepomp het, maar Herrie het ook geweet dit gaan ontken, of gerepudieer word. En so was dit.

En Herrie het verskeie geleenthede bygewoon waar Winkie haar puik Afrikaans so wonderlik idiomaties ingespan het. Woordryk en suiwer Afrikaans, en die idiome soos fier vosperde ingespan. Soms, met respek, bietjie oom Oubaaserig waar die lyne van verskillende idiome gekruis het.

By geleentheid sit Herrie saam met ander joernaliste in ‘n vertrek in die Vrystaatstadion. Ons is vreeslik op die hart gedruk hoe laat ons daar moet wees, en dat selfs ‘n sekonde laatkom uitsluiting sou beteken. ‘n Fifa-afvaardiging het die stadion vir inspeksie besoek, en een van Fifa se voorwaardes vir aanspraak op ‘n suksesvolle bod was dat Afrikatyd nie kan bestaan nie.

Winkie is reeds daar, en vertel grootoog van die dood voor oë wat Fifa hulle op die hart se punt gedruk het as die oog nie goed op die horlosie gehou word nie, en die voete opgetel word vir betyds wees nie. Ons moet die tekkies laat raas.

“Ons moet ons mooiste broodjies vir hulle bak,” vertel sy. Toe die sekondewyster op die twaalf kom, begin sy – die Fifa-afvaardiging obsent. Suid-Afrika het nie daardie slag die bod gekry nie.

Of dit oor daardie sensus-volbekkigheid was en sy skadebeheer moes toepas, of ‘n ander rede, weet Herrie nie, maar Winkie sal ook onthou word as die een wat ‘n peperduur ondersoek na beweerde wantoestande op plase gehou het. Mense is van heinde en verre aangery om te kom getuig. Daai duur ondersoek, so lyk dit, het dadels opgelewer, want dis nooit bekend gemaak nie.

Met die heengaan van die Kommando’s moes sy blykbaar ook weer in die destydse president, Thabo Mbeki, se goeie boekies kom. Die kommando’s, verklaar sy, is struikrowers. Kort hierna moes Herrie ‘n kommando in die oë kyk, en ‘n boerevereniging toespreek wat goedgunstiglik van die kommando by Herriesmit, ekskuus, Harrismith, van die kommandokantore gebruik maak.

Herrie kom op die dorp, maar het geen benul waar die kantore is nie. Ry toe al op die “i”-bordjies af tot by die stadsaal, en vra by die “i”-kantoor. Maar die aangesteldes trek skouers op, van kommando’s het hulle nog nie gehoor nie, en kommandokantore nog minder.

“Die struikrowersnes” wil Herrie sê, maar bedink hom. Buite vra Herrie die eerste persoon wat verbykom, en hy beduie Herrie haarfyn.

Winkie was een van daardie mense wat mense agterna eerder met deernis as omstredenheid sal onthou. Haar latere uithake en vroeëre giafappeltjieskap in haar struggledae is gewoonlik gou vergeet, haar diep en uitgesproke Christenskap, haar innemendheid en haar woordryke, idiomatiese Afrikaans is haar nagelate monument.

Herman Toerien