Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Die brak, Verkiesing

Herrie se kerrie – Die brak Verkiesing

“Oom Anneries, hoekom is oom se hond se naam Verkiesing?”

Ons het al vanoggend twee keer agter die skraal sonnetjie aan versit, stomende koffie in die hand, terwyl ons oor die naweek se rugby gepraat het.

Verkiesing is ‘n onaansienlike brak van onseker afkoms.

“Moet ‘n mol in sy voorsate hê,” het die tante eendag gesê toe Verkiesing met ‘n bruin snoet die trappe op is toe hy hond se gedagtes gekry het die tante het sy kosbak in die kombuis volgemaak. Gelukkig beperk hy sy grawery tot ‘n deel van die groot erf waar die tante nie regtig tuin gemaak het nie.

“Soms kry ek die indruk die tante kan nie wag dat Verkiesing sy kispak aantrek sodat sy daai deel van die tuin ook onder hande kan nie. Ek meen, dis die ene gate en slagysters – dit gaan maar min moeite kos soms gate te maak en te bemes.”

Maar hoe Verkiesing sy naam gekry het, het ek nooit tevore verneem nie.

Ficksburg was immers nog altyd ‘n lewendige plek vir die politiek, al is daar in die omringende dorpe dalk meer voorbeelde van hoe sterk die politiek nou eintlik loop. Uit die ou Bloed-Sap-dae uit dateer die onderonsie in Ladybrand toe die Sappe en Natte mekaar so erg in die stadsaal bygedam het dat die stadsaal se peperduur en baie besondere deure met kosyn en al uit die muur geloop is.

By Winburg, met skaars genoeg mense om een NG-gemeente te regverdig was die twee gemeentes jare lank as onderskeidelik die SAP- en die Nat-gemeentes bekend. Herrie bedoel, daai opslaanskoustoele wat so ‘n hele ry aanmekaar vas was het darem wonderlike bakleigoed uitgemaak. Gaan kyk maar in enige ou doprpie se skousaal se stoor hoe lyk daai stoele nou – pure oorlogsaandenkings van die lekker ou dae se politiekery.

By Clocolan wag die boere nou al ‘n paar verkiesings vir die politikus, Pêt Matroos, om te kon terugvoer gee oor vrae wat by ‘n spesiale vergadering met die boere aan hom gevra is. Hy het nie al die antwoorde gehad nie, sou gaan uitvind en kom terugvoer gee. Maar dit was die laaste sien van die blikoorkantien, amper soos verkiesingsbeloftes.

En nou, ja wel, tragies, was Ficksburg die tuisdorp van oom Anneries se naamgenoot, Andries Tatane.

“Man,” kom oom Anneries by die antwoord oor sy hond se naam uit, “met die vorige misipale verkiesing staan ek en die tante in die tou om ons kruisie te trek , toe dié jong brakkie verbydraf, ‘n lamppaal vol plakkate besnuffel, en toe wys wat hy van die spulletjie dink. Die onderste plakkaat het natuurlik omtrent alleen die hond se ‘stem’ gekry, ongelukkig die een met sy eie baas se glimlaggende bakkies op.”

“Die eerste stroompie was nog nie eens op die grond nie, toe is sy baas woedend by, maar gelukkig was my knie dié dag minder gejig, en was ek voor hom by om die hond op te raap.”

“ ‘Vat die bl&^% hond vir jou!’ het die politikus woedend gegil.

Oom Anneries en die tante is hartsogtelik lief vir daai brak. Hulle het nooit ooghare vir daai kandidaat gehad nie.

Herman Toerien