Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Die bitter (groot) pil

Groot Herrie gaan binnekort saam met die kerk se studente op toer na Mosambiek toe. Met dié dat mense tot in Pretoria malaria gekry het, is voorsorgpille hoog op die agenda.

En, onthou Herrie, daai pille is bitter pille. En ‘n mens moes so baie daarvan drink.

Maar pille is nie nuut nie. Twintig jaar gelede het argeoloë Griekse pille op ‘n skeepswrak volgelaai met medisyne aan die kus van Italië gekry, en daai skip het in die jaar 130 voor Christus vergaan. Pas het argeobotaniste bekend gemaak hulle het die samestelling van die pille bepaal. Altesaam tien plantsoorte is gebruik om die verskillende soorte pille te maak, en dit sluit plante soos hibiskus (vuurblom) en seldery in. Die pille was so groot soos muntstukke (en onthou, daai muntstukke was nog behoorlike munte – nie soos die goedjies wat as dit nou val, weg is nie).

En bitter moes dit bitter gewees het, want die geleerdes meen dis in asyn verdun om dit te kon inkry.

Toe Herrie ‘n kannetjie was, het beroepskeuses waarvan kennis gedra is, min of meer gewissel van dokter tot brandweerman, van polisieman tot onderwyser (ewe bang vir die dienders en die onnies), boer tot bankrower, en so ‘n paar ander.

Mettertyd het ‘n paar bygekom soos geoloog, argeoloog, verpleegster, joernalis en so aan.

Maar deesdae staan Herrie verstom: ‘n geoloog is nie noodwendig meer sommer net ‘n geoloog nie, hy kan ‘n geohidroloog, geofisikus, geomorfoloog en ‘n rits ander geo’s wees.

Nou sien Herrie van die argeobotanikuste, maar het al te make gekry met klimapaleontoloë, kosmoklimatoloë, astrofisici, forensiese ouditeurs, tenderpreneurs, tsjôtsjôpreneurs (voorheen verkeersbeamptes wat rybewyse uitreik), droogmakende kaders (of gedieplooides) ….

Die slegte nuus is dat mens vir hierdie beroepe wiskunde moet kan doen of iemand ken.

Met al die paleontologiese vondste in veral die Oos-Vrystaat, lyk dit of die Vrystaat dalk binnekort ‘n gewilde bestemming kan wees vir paleotoeriste. Die Amerikaanse deelstaat, Montana, het in die eerste jaar van sy “dinosaur trail” se bekendstelling amper 200 000 sulke toeriste gekry, en daarna by die 300 000 per jaar. Maar om dit in die Vrystaat behoorlik op dreef te kry moet iemand as ‘n paleo-operateur ontpop. Of is dit ‘n dinopreneur?

Nou wonder Herrie: Is daar dalk ‘n naam om Herrie se werksaamhede te beskryf? Herrie is immers ‘n onafhanklike, politiek-inkorrekte (politieke) kommentator wat ook vryskutverslaggewing en navorsing doen, rubriekskrywer en nog ‘n paar goed soos nutsman. Wat Herrie soek is iets wat op een sensusvorm sal inpas.

Die mees toepaslike is “ongespesifiseerde spesialisskrywer” maar hoe bemark mens nou jou dienste met so ‘n naam?

Miskien kan mens ‘n afkorting gebruik, soos vir Professionele, onafhanklike, legislatiewe, interdissiplinêre, taalsuiwer, inligtingsmakelaar, kollaborateurende, uitvoerende –skrywer; afgekort as “politikus.” Maar so laat Herrie hom nie beledig nie, en daar lê nog nagte van rondrol voor om Herrie se beroep ‘n naam te gee.

Herman Toerien