Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Dames van die nag ly honger

Die wêreld-ekonomiese krisis is glo amptelik iets van die verlede. Maar, so blyk dit uit meningspeilings, die meerderheid Amerikaners stem nie saam nie.

Nog ‘n kategorie wat klaarblyklik nie sal saamstem nie, is Nederland se dames van die nag. Of, soos ‘n Nederlandse koerant dit blatant geskryf het: Die hoertjies van Walletjies ly honger, en word van kospakkies voorsien – as’t ware om die wolf van die deur te hou.

Die Nederlanders gebruik hier ‘n woord wat Herrie laas in die ou Afrikaanse Bybelvertaling in skrif gesien het. Hier te lande het dit kennelik polities inkorrek geword om daai woord nog te gebruik. Selfs prostituut laat die Kommissie vir Geslagsgelykheid rooi ligte, ekskuus, rooi sien.

Om die een of ander rede meen hulle die woord: sekswerker, is polities meer korrek as om selfs na “dame van die nag” te verwys.

Die woord “hoer” was seker nooit bedoel om enigsins vleiend te wees nie, maar hoe die een woord na die ander weens politieke inkorrektheid in die slag bly, laat Herrie nogal dink aan die ander woord. Daai een wat so by mens opkom as Julius so sing van die Boere wat geskiet moet word.

Lees maar in ou ensiklopedieë – daar was ‘n tyd toe dit ‘n aanvaarbare woord was. Selfs Langenhoven, meer bekend vir Herrie die olifant en Loeloeraai as vir sy digkuns, het ‘n rympie geskryf wat nog in die Versamelde Werke opgeneem is … daai aan van die man wat kwaad gedoen het en toe deur die Dienders en ‘n polisiehond agterna gesit het. En so skryf Langenhoven, toe sê die weghardlopende *&^%, vir die naderende blaffer…” Die res is ook nou polities inkorrek.

Ja nee, ‘n mens kan maar sê Julius hou Herrie se gedagtes baie op die fyner dinge van die lewe, soos die letterkunde, gefokus.

Deesdae is Groot Herrie met sy honneurs besig, maar het vreeslik baie publisiteit gehad oor sy planne met die beefalo. En hy ken ‘n klomp hoghere terme soos die Haldane-reël so goed soos die pad na sy vriendin se woonstel.

Maar die woordkuns was nie altyd sy sterkpunt nie – maar hy kon homself behoorlik verstaanbaar maak. Soos toe Schumaker-Levy se komeet opgebreek en in stukke op Jupiter se oppervlak gaan val het – en hy by sy oupa wou weet of Oupa gehoor het van die klippe wat op Oom Pieter se kop gaan val het. Oupa Nic het goed geweet dis Jupiter wat nou Oom Pieter geword het, maar wou nogtans weet wie nou so orig was om die klippe op oom Pieter se kop te gaan gooi. Nee, dit het Groot Herrie (toe nog klein) nie geweet nie, maar het darem met Oupa saamgestem dat dit een van die plaaswerkers met meer duime as vingers kon wees. Die een wat omtrent die helfte van sy eie voet afgespit het. Lui was hy bepaald nie.

Maar by ‘n ander geleentheid bevind Groot Herrie hom saam met ander grootmense by sy oupa-hulle aan tafel. Die grootmense praat oor die probleem van die dertienjariges by die Waterfront wat die dames van die nag so kompetisie bied. Terwille van klein muisies met groot ore word in kodetaal gepraat, van die “goggas van die nag.”

“Ja,” snap Groot Herrie, “‘n mens noem hulle steekvlieë.”

Hy het egter heel onskuldig op dié politiek inkorrekte waarheid afgekom. Hy het oupa help lusern sny en baal, en daar het die steekvlieë hulle geteister.

Herman Toerien

Konsultantis Ekstra-ôdinêr