Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Dakstories

Terwyl die Rôjil weddieng plaasgevind het en Kyt Middeltoon van die Kaap ‘n Engelse prins getrou het, was Herrie op die dak. Nee, nie om die *&^% antenna mooi ingestel te kry nie – om die dak met seëlaar by te dam voor die volgende reën kom.

Maar die Herries is lank nie al wat dié dakmoeilikheid gehad het nie. Oral sien Herrie plakkate tussen die verkiesingsplakkate oor manne wat hul dakwerk teen die groot drup tot vyf jaar waarborg.

Maar ook die Herries se kerk het dakmoeilikheid. Dit lek nie, dit begin roes. En dit gaan, tensy ‘n boereplan gemaak kan word, ‘n yslike lot geld kos om te verf. Die moeilikheid is dat die dak ‘n vreeslike skuins helling het, en die grootste koste gaan vir die huur van ‘n hystoestel waarin die verwer moet sit om nie self sy lyf roller te hou nie.

Dit laat Herrie dink aan die man wat op sy eie dak herstelwerk moes doen. Maklik, hy maak ‘n tou om sy lyf vas, en die ander punt word iewers aan die anderkant van die daknok aan iets vasgemaak. Maar anderkant is niks. Al plan is om die kar in die inrypad te trek, en die ander punt aan die kar vas te maak. Maar darem nie voor vroulief nie oor die toedrag van sake ingelig is nie.

En so begin die man rustig aan die dak werk. In die huis sien vroulief ‘n winskopie in die koerant, draf kar toe, en vlieg weg.

Die res van die storie is minder mooi. Herrie kan net nie onthou of die man dit oorleef het nie, maar indien wel was hy sleg beseer voor ‘n voetganger die voortsnollende vrou ‘n paar blokke verder voorgekeer het toe hy sien wat aangaan.

Dus, as Herrie aan die kerk se dak gaan werk sal hy die kar se sleutel saam opvat – net vir ingeval.

Ja-nee, Herrie is as’t ware ‘n gesoute dakman, ook skuins dakke. Jare gelede help Herrie sy destydse stiefpa, die skrywer-digter Barend J. Toerien, om sy plekkie by Kerhonkson in die VSA verkoopgereed te kry. Herrie werk by geleentheid bo-op die nok van ‘n buitegebou se dak aan die skoorsteen. Dis sneuwêreld, en die dak is baie skuins, weerskante van die nok waaroor Herrie wydsbeen staan. Wat Herrie nie geweet het nie is dat daar ‘n perdebynes in die skoorsteen was, en dat die perdebye eksepsie geneem het dat Herrie die “tender” vir die herstelwerk gekry het. Een gaan piets Herrie toe op die deel van die anatomie waar ‘n mens gewoonlik inspuitings kry. Herrie nie, dis te grillerig daar, met die gevolg dat Herrie nou nie sulke soort teenspoed daar gewoond is nie. Ter nouernood behou Herrie sy balans, want weerskante, op die “landingstroke” is yslike brandnekels.

In die dae toe Engels so half verpligtend “in” was, ontdek ‘n Matie-student hy kan sowat 5 sekondes later slaap as hy op pad klas toe by sy kamervenster op die eerste vloer op die grasperk onder uitspring. Eendag vat hy dit te rustig, is slaat verwoed onder neer, en bly krullend en kreunend lê. Die koshuismoeder storm nader en wil in Engels weet of hy seergekry het.

“Yes miss,” kreun hy, “I think I broke my koukou bone.”

Ja, Herrie verstaan nie aldag Afrikaans so woordkeuses so mooi nie. ‘n Mens se bekkenbeen word kakebeen genoem, en sy kakebeen weer sy bekkenbeen.