Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Chorba El Jourad vir die Kerstafel (behalwe in Oeganda)

Die Herries se Kerstafel kreun nou wel nie vanjaar onder ‘n gemeste kalkoen nie, maar daar is ook nie ‘n Oegandese lekkery op wat Herrie nou glad nie mis nie.

Sprinkane.

Of springhanen, soos Trouw berig wat Herrie redelik geTrouw lees.

Weens die tekort aan sprinkane het die prys van hierdie lekkerny verdubbel. Die rede, so word berig, is dat die land se kragnetwerk lendelam begin raak het, en dat die sprinkaanvangers van Oeganda snags lig nodig het om dié lekkernye vir die smulpape in die hande te kry.

Die Herries se hoofgereg op Kersdag bestaan uit iets soortgelyks as “spinghanen”, maar sonder die “spring.”

Maar die Oegandese is natuurlik nie al wat hul lippe vir die sprinkane aflek nie. In die Bybelse tye was daar heelwat sprinkaanplae, en lees ‘n mens ‘n Engelse vertaling word sommer beskryf hoe die een spesie se plaag ‘n ander opgevolg het. En ja, dis baie soos wat ook hier gebeur waar veral drie spesies mekaar “opvolg” soos die eiers verskillende tye in verskillende dele uitbroei. Net soos die een vlaag kafgedraf is, kom die volgende swerm.

In die Bybelse tye het die plaag dan ook gereeld die gesaaides wat hulle verorber het op die kostafel vervang. In Cooking with the Bible word selfs ‘n resep vir sprinkaasop, Chorba El Jourad verskaf. Vir die smulpape wat belangstel om dit op die proef te stel – let asb mooi op want Herrie gaan dit net een keer neerskryf:

– Neem 12 tot 24 sprinkane (spesie nie voorgeskryf nie).

– Neem een koppie water (verkieslik van ‘n bron wat bloudruppelstatus het, anders kry die sprinkane onverdiend die skuld).

– Neut na smaak

– Peper na smaak

– 12 snye brood

– Botter

– Rys

– Breek die voorpote en die stekelrige dele van die agterpote af, en breek die koppe so af dat soveel as moontlik van die ingewande saam uitkom (omtrent soos ‘n mens maak as ‘n mens die dik wit soort rysmiere panbraai vir ‘n heerlike roerbraai).

– Geur die sprinkaanvleis met die neut en swart peper, en laat dit ‘n paar minute in die water kook.

– Vlek die sprinkane oop, en meng dit dan met brood wat in botter gebak was. Laat die pasta dan vir so tien minute prut, en bedien dit so warm as moontlik.

– Dit is genoeg vir 12 porsies.

Om te dink die minder gegoede Oegandese moet dié Kersfees nou só ‘n maal ontbeer!

Op ‘n ernstiger noot – diegene wat vandag by ‘n feesmaal aansit, dink in die ware Kersfeesgees aan hulle wat vandag honger na liggaam en gees is. Ja, dink maar aan hulle wie se dag vandag deur ‘n oproep gemaak sal word.

Herrie is juis weer so vol moed dat die Suid-Afrikaanse Christusfees nie onder die aanslag van Krismis, of nog erger, die hêppie hôlidys wat van Amerika af oorgewaai het, kon vou nie.

Vandag was die Herries se kerk besonder vol – in die middel van die binneland terwyl soveel lidmate weg is groot dam toe. Ja, die nuusbriefies was glads te min. En was dit nou ‘n mooi diens, met ‘n mooi boodskap en ‘n kerk vol gemeentelede en besoekers wat die kerk se besondere akoestiek na iets werklik besonder laat klink het!

Van mense wat in vreugde sing omdat hulle weet hulle is vrygemaak…

Dus nogmaals van Herrie – ‘n geseënde Christusfees aan almal. (Foto: ANP)

Herman Toerien