Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Catshuis aan die Jordaan

Die ampswoning van die Nederlandse premier in Den Haag heet die Catshuis. Dit het egter niks te make daarmee dat dié huis uit die Middeleeue dateer toe die prins of sy eerste minister balhoriges met die kats – toe nog cats gespel – laat bydam het nie. Trouens, die huis wat in 1652 betrek is, het aanvanklik as Sorgvliet bekend gestaan, en is deur die digterlike politikus, Jacob Cats laat bou.

Herrie dink ‘n Nederlandse premier wat die kats laat inspan, is klaar ‘n gewese premier en in die tjoekie. Daai kaasmanne is erg oor menseregte.

Maar dit gee Herrie nogtans gedagtes. Sou dit nie gedeug het as daar in Bethlehem ‘n katshuis was, waarheen die mense wat Tjokkie Venter so aangeval het, heen geneem kan word nie?

Nog kandidate vir ‘n besoek aan die katshuis is plaasaanvallers, veediewe (veral dié wat beeste wat hulle nie saamgejaag kry nie se hakskeensenings met ‘n panga afslaan), korrupte amptenare, mense wat veldbrande stig, lede van die polisie, veral Blitspatrollie, wat nie telefone beantwoord nie, vroueslaners, dronkbestuurders en mense wat oor rooi verkeersligte of by skole verbyjaag, verkragters, kindermishandelaars, oproermakers, mense wat selfoon praat in die ry, of in die ry in die truspieëltjie tittewyt, rommelstrooiers …

Dinge wat mense willens en wetens aspris verkeerd doen. Sondae, op pad kerk toe, is Herrie verbaas oor hoe mense die wet oortree deur hopeloos te vinnig te ry – op pad kerk toe. Kom hulle by ‘n stopteken, hou hulle soos die grootste wetsgehoorsame burgers mooi stil. Net om weer verder voet in die hoek te sit. Herrie is nou skugter om oor die gebruik of nie van flikkerligte te praat, want die gebruik daarvan is nou blykbaar politiek inkorrek, uit die mode, of iets. Nou wonder Herrie net: Watse wrede straf kry die mense by hulle kerk as hulle laat kom dat hulle die keiser so ongehoorsaam moet wees? Strafsit? Moet hulle die kerk se vensters was?

Van Nederlandse woorde en die kerk gepraat. Herrie se ma het as kind ‘n pop gehad met die naam Synkind. By die kerk daaraan gekom. Ma het jare later eers verneem waar dié naam vandaan kom – dominee het altoos in die kerk gepreek van ons wat Jesus Zijn kind is. Wys net, ma het opgelet in die kerk.

Jare later, na Herrie se pa oorlede is, is Ma getroud met ‘n neef van Pa, die digter Barend J. Toerien, en op hul plasie by Kerhonksen, so ‘n 100 myl noord van New York gaan woon. (Die Yanks het nog nie kilometers uitgevind nie).

New York was eers Nieu-Amsterdam voor die Ingelse dit loop afvat het, maar die Nederlandse kerke het jare lank nog met Nederlands probeer volhard. Tot ‘n dogtertjie vir haar ma-hulle gevra het wie is die Hettie Evangelie van wie dominee so gereeld preek? Dis juis oor daar so baie Janne en Kese in Nieu-Amsterdam was dat die Ingelse na die Nederlanders as die Yankees begin verwys het. En Wall Street was ook eens Walletjiesstraat, of so iets, van ‘n wal wat gebou is om vyandige Rooihuide weg te hou. En ook hoekom die Yanks so graag “coal slaw” eet. Die Ingelse het ook in hul geskrifte geskryf oor hoe hulle goed wat hulle by die Nederlanders gekoop het, met Riks Dollars (Rijksdaalders) moes betaal.

Maar Herrie sal darem self soos ‘n neet bly klou as in die toekoms druk gaan kom dat die kerk moet oorslaan na iets so soos die Afrikaans van die Son-koerant.

Nee, Herrie sal vir die veranderingsdrywers mooi in Fanagalo sê om te gaan. Want in Afrikaans is daai woord vir weggaan ‘n vreeslike lelike woord, en Herrie praat nie sommer lelik nie, nie eens as Herrie agt maande lank met Centlec baklei om ‘n kragkwitnsie op die rekening te laat reflekteer, en ‘n maand lank met Telkom om die internet nie soos ‘n flikkerlig te laat werk nie.

Nee, dan praat Herrie net goeie en fatsoenlike Fanagalo.

Soos die seuntjie vir sy ma gesê het, hy het nie geweet die bure se kat kan Fanagalo praat nie. Ongelukkig hakkel die kat. Sy ma wou duidelikheid oor die saak verkry, en die knapie vertel: “Die kat spring oor die muur in hul erf, en beland reg voor Tanneman, hul Rotweiler. Tanneman is ongasvry, en toe begin die kat hakkelend Fanagalo praat – fff, fff…fff, maar voor die kat nog die hele woord kan uitkry, moes hy weer oor die muur spring en self fff….”

Herman Toerien