Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Bygeloof

Die dertiende lugskou is vanjaar in Bethlehem gehou, en Herrie wonder hoeveel van die manne en vroue daar het so ‘n ongemaklikheidjie gehad oor dit nou juis die 13de was.

Herrie het in ‘n huis heeltemal gestroop van bygelowe grootgeword, maar ‘n ouer familielid, reeds lank saliger, het nie ‘n bygeloof gemis nie. As ‘n skêr val, word eers op hom getrap voor hy opgetel word, onder geen leer word deurgeloop nie…

Toe een van ons kinders se witrot die sitkamer ingedraf kom, en die statige dame onstatig en gillend die bank bestyg, dag Herrie dit het ook iets met bygeloof te make. Maar toe nou nie.

Maar dis juis tydens ‘n lugskou dat Herrie vir die eerste keer van bygelowe bewus geword het. As snotkoppie is Herrie saam met die gesin na ‘n lugvertoning wat oor die see naby Kaapstad se hawe gehou is. Op die strand tel Herrie ‘n kurkdroë seebamboes op, en met die parraslagter word ‘n gawe beuel (of is omgewingsvriendelike f*&kenzela-prototipe?) gemaak.

Maar skaars die eerste “noot” uitgekry, of ‘n woedende seeman sak op Herrie toe. Hy het ‘n reuse woordeskat ingespan wat Herrie glad nie geken het nie. Was seker Engels, want in Herrie se grootworddorp was Engels destyds nie ‘n tweede taal nie, maar ‘n onbekende taal.

Pa-Jan staan toe nader en keer dat die woedende man die stuk bamboes …

Pa verduidelik die seemanne glo dit sal ‘n skip laat vergaan, iets wat Herrie nou glad nie die kloutjie by die oor kon kry nie. So vreemd is dit vir Herrie dat Herrie vra of die oom se kop onklaar is? Terwyl Herrie sulke draaibewegings met sy hand om sy oor maak. Dit sien die matroos toe, en die ou spreekwoord kry toe weer behoorlik gestalte.

Maar dié ding van die 13de loop diep. Toe Herrie jare gelede in Pretoria begin werk het, was die losieskamer op die 12de verdieping. ‘n Kollega se kamer op die volgende verdieping was op die 14de vloer.

By die werk se gebou het die middelste hysbak snags vanself eers op die 13de verdieping gaan stilhou, maak nie saak watter knoppie ‘n mens gedruk het nie. Die deure gaan oop en toe, voor die hysbak na sy veronderstel bestemming vertrek. Maak nie saak hoe aan daai hysbak gewerk is nie, daai nuk kon hulle nie uit hom kry nie.

Na bewering het ‘n werker van die dertiende verdieping af in die skag afgeval terwyl die gebou in aanbou was…

Teen die hysbak se kant was ‘n liederlike duik. Een nag het die alarm afgegaan en een van die sekuriteitsomies moes gaan ondersoek instel. Pistool in die hand is hy benoud in daai hysbak in, en toe sy onnutsige kollega sien hoe benoud hy is, wag hy tot die hysbak vertrek het, en bel hom toe op die hysbak se foon. Gelukkig is die foon misgeskiet…

Herman Toerien