Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Brief na die Noordpool

‘n Neef van Herrie se laaitie, Blikkies Oor, moes ‘n paar dae by die Herries oorbly terwyl die ouers beide vir sake uitstedig moes wees.

Blikkies is intussen weer by sy ouerhuis, maar die Herries se tonge hang behoorlik uit. So verrykend en lekker soos wat dit was ‘n ‘n jong kannetjie vir ‘n paar dae in die huis te hê, so vermoeiend was dit.

Terwyl pa en ma weg was, kry Blikkies huiswerk by die skool: ‘n brief aan Kersvader. Uit die brief, waarmee Mev. Herrie hier en daar hand moes bysit, blyk dit die knaap het ‘n grondige kennis van Kersvader, hoewel hy hom plek-plek met die Nederlandse Sinterklaas verwar.

Lieve Kêrsfadir

Noortpool

My naam is Blikkies. Ek bly nou by oom Heriele en dis lêker want ek kry nie so baie pak nie. Hoe gan dit nog met Bliksem (Blitzen) en hokom is sy nees so rooi? Mei pale is nou weer trig en ons sal Kersvees byrie see wees. Kêrsfadir sal dit seker weer kry?

Oom Herie sê Swarte Piet mag nie meer saamkom nie want dis nie meer polisie of iets meer reg dat hy al Kêrsfadir se harte werk doen nie. Mag die lat nog saamkom fir die stoude kiners of mag nog net die prisende saamkom?

Ek was baje soet gewees. Kan ek asibliev i Esterieks deefeedee kry? En vir my pa ‘n nuwe een eistir want die ene wat hy nou het slaan baje skeuf, en dan sê pa dinge en oom Herie wys ek moet my ore toedrik. Vir ma ‘n nuwe telifoon want die ene wat sy nou gebryk het baje dier geword dan word pa baje kwaat. En as daar plek is ‘n laailou asibliev.

Onthou ek was baje soet.

Blikkies

Dan verlang Herrie sommer baie na sy eie kleintydse Kersfeeste by die see. Ouma en tannie SC het vir die gemmerbier gesorg in sulke groot glaskanne, met rosyntjies wat bo-op dryf. Hoe langer die vakansie geword het, hoe snoeper het die kinders se gemmierbierkwotas geword, want teen daai tyd het die bottels al vreeslik geraas as die proppe oopgedraai is. Hoë oktaan gemmerbier, maar steeds heerlik.

Sondae was pak kry dae, want Sondae het die groot mense na ete gaan skuins lê, en op Sondae mag nie geswem of geraas word nie. Dan was die kleingoed erg met hulself opgeskeep, en is allerlei kwaad kort voor lank uitgedink. En kwaad doen gee byna altyd geraas af. En niks is so grompie soos ‘n grootmens wie se middagslapie deur ‘n kind wat raas kortgeknip is nie. Om alles te kroon was daar nog ‘n ekstra Sondag ook – Dingaansdag wanneer ook nie geraas of geswem mag geword het nie.

Maar dan kom Kersfees, en dan word al die opgekropte energie genoeg uitlaatklep gegee. Met pa’s en oupa’s wat die Bybel nadertrek vir die Boekevat voor Kersvader kom.

Van Swarte Piet het Herrie maar net in die Rooi Ridderboeke en Duitse kinderboeke gelees. Maar nou, lyk dit vir Herrie is Swarte Piet tot niet, want dis polities inkorrek. Ja, vier manne wat soos Swarte Piet uitgedos was, en in Nederland teen dié “rassistiese” gebruik betoog het, is gearresteer. Deur wit polisiemanne nogal, en daaroor is die gort ook gaar. Herrie verstaan dis ook nou verkeerd om swart koffie te drink – dit moet dit koffie sonder melk wees.

Ja nee, die politieke slaggate maak Herrie se bui somme onwit.

Herman Toerien