Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Boomgerookte hombrés

Uruguay het pas sy planne bekend gemaak om sommer op een slag die handel in dagga en die verslawing aan te spreek. Die staat wil die monopolie op die verkoop en prysvasstelling op hom self neem, en daardeur geld vir die aanspraak van dwelmverslawing aanspreek. Die land se boere staan glo gereed om te laat waai met die plant en oes daarvan.

Daai logika, so voel Herrie, maak omtrent soveel sin soos om iemand gereeld dop in te jag sodat hy later teen alkoholisme behandel kan word.

Kyk, Herrie hoef nie van die kwade gevolge van dagga oortuig te word nie. Daai reuk gee vir Herrie op slag die vreeslikste skeelhoofpyn, al is die roker ook 50 meter windaf. Pumba soek daia reuk ook niks, en Herrie moet gereeld aan haar ketting rem as Herrie saam met haar stap om te gaan koerant koop, en sy agterkom ‘n verbyganger stook boom.

En probeer nou met ‘n boomgerookte persoon werk. Ja, hy vergeet om moeg te word en sal as hy aan die werk kom ‘n vreeslike lang sloot onder die bloedige son in die hardste grond kan pik, maar as hy iets in sy kop kry en begin stry … dan moet ‘n mens eintlik maar op jou tande byt en loop. Dwarskoppig is nie die woord nie! En ja, Herrie weet, en Herrie het nie geloop nie. Herrie het met die pynlike kneukels gesit, en ta het nie eens geweet hy is gewillewragtag nie.

En op so ‘n ‘n HOP-saait leer ‘n mens die noemnaam van die skopzol in verskeie tale gou ken. En probeer nou ‘n roker vastrek. Daai zol is skielik skoonveld – glo ingesluk.

Intussen is die Republikeine willebooslik kwaad vir pres. Barack Obama omdat hy uitvoerende privilegie opgeroep het om te keer dat die dokumentasie van die abortiewe operasie “Fast en Furious” aan die kongres se oorsigkomitee openbaar word. Met dié operasie het die federale owerhede wapens aan onder meer Meksikaanse dwelmkartelle verkoop met die idee om die spoor te volg en die groot visse aan te keer. ‘n Paar klein vissies is gevang, maar die wapens is al weerskante van die grens in misdade gebruik, en onder meer is ‘n federale geregsdienaar doodgeskiet. Obama se snoerdekreet help nou nie juis dat die Yanks die logika van die operasie kan snap nie.

‘n Klompie jare gelede kondig die Aussies aan dat hulle ‘n daggaplant ontwikkel het waarvan die beste kwaliteit jannas gemaak kan word. En om van daai soort boom gerook te raak moet ‘n man ‘n hele janna oprook. En omdat Herrie se destydse afdeling ekonomiese projekte vir die arm gemeenskappe was, kry Herrie ‘n plan. Want, soos enige boer sal getuig, gee vir ‘n man mieliepitte, pampoenpitte en wat nog, maar as iets geplant word, lyk die plante te gehawend, en die oes nog meer effentjies. Maar kry daai einste persoon daggasaad in die hande, het hy groen vingers, en groei dit te welig, maak nie saak waar hy dit plant om uit die boer en die pote se sig te kry nie. Selfs onder ‘n omgekeerde bad.

En juis toe het die Chinese ‘n denimfabriek in Botshabelo begin.

Die gemeenskap is ook baie entoesiasties. En Herrie spook om daai spesiale soort se saad te kry, tot Herrie agterkom die gemeenskap beplan om die denimdagga buite-om te plant, en binnekant die boom wat skop. Dit kos Herrie die projek skrap, want rede is daar nie rede nie. Die feit dat die voorbok se naam Rasta was, moes seker ‘n leidraad gewees het.

So van boer en werker gepraat. Jare glede had oupa ‘n werker wat so oulik was met die weer voorspel. Oupa was baie afhanklik van dié man se voorspellings wat omtrent nooit verkeerd was nie.

Eendag verneem oupa weer na die weer. “Ek weet nie,” kom die bot antwoord, en oupa sien die man is dikbek.

“Maar hoe weet jy dan nie nou wat die weer gaan maak nie? Jy is dan altyd so reg.”

“My FM het gebreek,” kom die sielsongelukkige antwoord.
Herman Toerien