Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Bederf is nou maar bederf

HERRIE SE KERRIE

HERRIE SE KERRIE

So lank as wat Herrie vir Oupa Nic en Ouma Engela ken, so lank het katte half wild op die werf gebly, en honde soos kinders in die huis.
Maar kleinkinders kan wonderlike dinge doen.
So het dit met tye gebeur dat ‘n katjie by die huis aangebring is, aangeneem is en ‘n huiskat geword het.
So ‘n katjie was Askat, ‘n askat. Herrie se sus het ‘n askat gesoek, en Herrie het die haf wilde dingetjie op die plaas opgemerk, en ‘n groot operasie is begin om die katjie by sy nuwe tuiste by Kleinbrak te besorg.
Nou kan Herrie nie onthou hoekom dié planne in die stof gebyt het nie, maar dit het. Teen die tyd dat Askat terug op Erfenis aangeland het, was hy al so oorlams, dat hy nie meer deel van die werfkatte was nie. Nee, op die ounooi-hulle se bed geslaap – en Herrie kan net dink tot watter ontsteltenis van die Skippers wie se slaapplek dit eintlik was.
Nou is daar weer ‘n huiskat.
Dié kat se lekkerste bederf is beskuit wat in tee geweek is. Die ander katte – die werfkatte en die stoorkat, kry pap en melk.
Maar toe gaan loop huiskat rond, en kom ‘n dag of wat later gedaan en gelaai van die klosse terug. Waar ouma Engela hom neersit, daar lê ta. Eers na ‘n dag of wat kon huiskat homself bietjies-bietjies versit, maar was te swak om al sy beskuit in tee geweek baas te raak. Die oorskiet gaan toe na Stoorkat toe.
En dié nuwe kos geval vir Stoorkat so, dat hy nou ook hierop aandring.
Dus kry Stoorkat nou ook gereeld sy beskuit in tee geweek saam met sy pad en melk.
Die beskuit-in- tee word dadelik genuttig, want sien, wanneer Stoorkat klaar gevreet het, kom vreet die meerkatte die res. Stoorkat deel nie die beskuit nie.
Maar, sê oupa Nic, waar die katte eers die melk drink en dan begin pap vreet, druk die meerkatte hul snoete deur die melk en pik vir hulle klonte pap uit om te gaan vreet. Mutualisme, al is dit nou ook onbedoeld.
Ja, Ouma Engela het haar al ‘n slag verkyk toe sy in die stoor kom en sien hoe ‘n klein waaierstert die meerkatpad kies met ‘n aartappel wat hy vasgelê het. Herrie verstaan hy het so iets tussen rugby- en sokkervernuf aan die dag gelê. Slaan hy die aartappel aan, dribbel hy hom ‘n ent. En oplaas speel hy gholf, toe hy en die aartappel in die putjie, ekskuus, meerkatgat verdwyn.