Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Bakleipolitiek kom van ver af

Met die veelrassige politieke bedeling wat in 1994 ingetree het, is dit nie meer wys om bakleierig te raak as die politiek warm onder die kraag raak nie. Vrot eiers en tamaties wat na sprekers op die verhoog geslinger word, kan te maklik in ‘n relletjie oorgaan waar huise en ander geboue in vlamme en as opgaan, en mense selfs met hul lewe boet.

Vergeleke met die skerp kant van die Afrikaners se stormagtige politieke verlede is die voorval waarin ‘n Stellenbosse filosoof se bril gebreek en hy ‘n blou oog gekry het, ‘n nietigheid. Maar die konteks het verander.

En nee, so ver bekend is daar geen plan om die manskoshuis, Wilgehof, tot die Abel Malan-tehuis te herdoop nie. En al was die prof se oom, die vermaarde oud-skoolhoof en Burgemeester, oom Schalk van Niekerk ‘n Bethlehemiet, beplan die ANC-beheerde raad nie om Loch Athlone die Anton van Niekerkoord te noem nie.

Hoewel politiek voor 1994, en veral voor 1983 taamlik streng geskei is, het dit nie beteken dat voorvalle nie plaasgevind het nie. In sy boek, die Goue Draad, skryf Wennie du Plessis hoe, in einste Stellenbosch, die mense Saterdagaande op De Wets se stoep gaan toustaan het wanneer ‘n Engelstalige Sondagkoerant afgelaai word. ‘n Klompie bruin mense het egter nie in die tou gestaan nie, maar as die koerant kom, gaan druk hulle in.

‘n Paar Matiestudente besluit dié ding moet end kry, en gaan val entjies uitmekaar in die tou. Toe dit indruktyd raak, word die indrukkers ewe ferm weer uitgestamp. Nog onbewus van wat aangaan, word die tou weer bestorm, net om op hul sitvlakke te beland. Kort voor lank is ‘n groot deel van die dorp se wit en bruin inwoners aanmekaar, en ‘n paar bruin mense se huise bly in die slag.

Wennie het dit betreur, want hy het besef dat so iets wyer implikasies het as wanneer onse mense net mekaar takel.

Voor die referendum vir die republiek toer voor- en teen-mense deur die land en spreek gehore toe. In die Noordweste is dit ook so, en die man is vir republiekwording. Het hy klaar gepraat, spring ‘n klein mannetjie op en gil: “Ja, maar wie gaan ons beskerm?” Dan verduidelik die ou, en as hy klaar is, spring die mannetjie weer op: “Ja, maar wie gaan ons beskerm?”

Met die soveelste keer se opspring is die groot tante in die stoel regter agter hom, se draad met hom egter op. Sy druk hom terug op sy stoel, so hard dat die stoel onder die mannetjie mo*rtoe is en hy met sy gaai op die vloer beland: “Sit str*nt, ek sal jou beskerm!” Taamlik ongewelddadig.

Maar in die dae van die Smelters en Gesuiwerdes het dit soms minder maklik gegaan. ‘n Temerige spreker praat vir die Natte is die stadsaal, Herrie meen van in Calvinia in, en by die Sappe in die skoolsaal gaan dit lewendiger. ‘n Verveelde lid van die Nat-gehoor spring naderhand op en skree: “Ek sê ons los die vergadering en gaan don*er die Sappe!” Hy word stilgemaak, maar kort voor lank is hy op met dieselfde voorstel. Naderhand is die spreker kwaad: “Wil jy my nou sê jy gaan ‘n SAP regedo*nder kry?”

“Ek was ‘n SAP, en hoe het ek reggekom? Ek is regge*onder! Ek sê ons los die vergadering en gaan don*er die Sappe!” Hy het glo sy sin gekry.

Dié raat, so lyk dit, werk ook in ons tyd. By geleentheid het die Nat-LP dr. Manie Schoeman in die parlement ‘n hou na die ANC-LP, Johnny de Lange gemik, maar Johnny was te vinnig en slaan eerste terug – ‘n voltreffer en dr. Manie beland met sy bas op die harde parlementsvloer. Kort daarna loop dr. Manie na die ANC oor. Ons Boeremense sal egter sê hy is heel verkeerd gedon*er.

En aai, hoe ons as hoërskoolseuns nie uitgeglip het om te gaan kyk hoe die Natte en HNP’s – sommer Hertzogiete genoem – mekaar bydam nie. Die bakleiery het gewoonlik begin na Natte in die gehoor die HNP se sprekers met vrot eiers en tamaties bestook het. In die Nat-SAP-dae is Ladybrand se stadsaal se deure met so ‘n bakleiery skoon met kosyn en al uit die mure uitbaklei.

Al is die laaste apartheidswet vanjaar presies 20 jaar gelede uit die wetboek gehaal, kan ‘n mens jou net indink hoe ‘n moles dit sou wees as een van die eietydse Stellenbosse bakleiers wit, en die ander swart was. Dink maar net aan die bohaai oor die Reitz-vier-insident.

Opname na opname wys dat die land niks minder rassegepolariseerd word nie, en sommiges dui selfs aan dat die land meer rasgepolariseerd word. Dis te wagte as die regering so baie rassewetgewing op die wetboek plaas en nog ‘n klomp uit die hoed wil pluk.

Herman Toerien