Subscribe by Email

Herrie se kerrie: As die kat weg is, is die muisvoëls baas

Die Herries se kat het vroeër vanjaar afgesterf. Dis ‘n kat wat maar soms ‘n hondelewe gelei het vandat Pumba ingetrek het – ‘n boerboel wat katte háát.

Met ‘n verterende haat, haat Pumba katte. Dis eers na mev. Herrie vir Pumba uit desperaatheid met pepersproei gespuit het toe sy die kat in die huis probeer opvreet het, dat dit beter gegaan het – maar ook net wat hierdie enkele kat betref.

En die kat het sy kant gebring. Ook rotte en muise gebring, sodat Herrie gereeld soggens die reste moes gaan begrawe.

Met af en toe ‘n voël. Soos dié slag toe Herrie toevallig op die kat afkom, met ‘n duifie wat langs die kat staan of dit ook maar sy plek is. Dis eers toe Herrie die duifie gryp en buite gaan uitsit, dat die kat laat blyk het Herrie het nou sy kos afgevat.

Danksy Pumba is die erf nou taamlik katloos. Besoekende buurkatte weet om, wél, katvoet te loop. Eintlik te hardloop.

So bemerk Herrie lyk sy spinasie in die groentetuin algaande meer en meer gepluis. Veral die spinasie wat naby die tamatieplante staan.

So uit die sitkamer sien Herrie hoekom. Om die tamatieplante is sulke raampies ingesteek om teen te rank, en die muisvoëls gebruik daardie raampies om op te sit en spinasie te vreet.

Kleintyd was Herrie ‘n jaar lank in Amerika en het TV gesien toe die regering hier nog erg teë op die kykkassie was. En daarop het Herrie met sy eie oë gesien hoe Popeye sterk word as hy spinasie inkry. Dus is Herrie maar lugtig om die muisvoëls te gaan verwilder .. ‘n mens weet nooit.

Gelukkig het meer spinasie opgekom as wat die Herrie kan baasraak of weggegee kan kry, en gelukkig het die muisvoëls nie trek vir die tamatieplante en die boontjieranke nie – die enigste ander groete wat opgekom het.

Maar Herrie moet bieg – hy voel half wrewelrig as hy in die groentetuin is en die muisvoëls sit op telefoondrade en op die huis se dak en bome in die omgewing en maak luidkeels beswaar oor Herrie hom in hul groentetuin bevind.

Nou begin Herrie ‘n slinkse plan formuleer – met dié dat die misipale volhou hulle het – selfs by voorsiening van ‘n kwitansie vir betaling – nie die betaling vir die Herries se waterrekening gekry nie. Herrie gaan daai waterrekening vir die muisvoëls aanpresenteer. Dié wat nie op slag aan hartaanvalle gaan beswyk nie, trek beslis Siberië toe. Met al daai spinasie onder die blad, sal dit kinderspeletjies wees.

Anders sal Herrie vir Pumba ook moet begin spinasie injaag (‘n plan het Herrie nog nie, want om vir ‘n kat ‘n pil in te jaag is kinderspeletjies vergeleke om vir ‘n boerboel iets in te jaag wat hy nie wil ingejaag hê nie), en dan vir Pumba wysmaak daai muisvoëls is eintlik katvoëls.

Arme voëls.

Herman Toerien