Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Aardbewings laat jongetjies rekords opstel

Onlangs het die Japannese 11 Maart verlede jaar se groot aardbewing van magnitude 9 en tsunami herdenk. Dié ramp het nie net groot lewensverlies en skade veroorsaak nie, maar ook gehelp om die wêreldekonomie se gesukkel te stook, en Japan se wenteldeur-premiersopvolging tydelik versnel.
Amper net mooi ‘n jaar later, op 14 Maart, het ‘n aardbewing van M 6.9 dieselfde gebied geskud. As in ag geneem word dat die grote wat Haïti so hard geslaan het, M 7 was, en die een wat Christchurch soortgelyk getref het M 6.1, dan gee dit ‘n idee van hoe erg die Japannese aardbewing was.
2010 het die meeste aardbewings van M7 of meer in baie jare opgelewer, en verlede jaar was amper net soveel. Vanjaar was daar nog net twee sulke aardbewings, beide by gebiede wat nie veel aandag trek nie, maar dit beteken nie sake gaan so bly nie.
En al is ‘n klomp geoloë en ander wetenskaplikes verlede jaar in Italië voor die hof gesleep omdat hulle nie jare gelede ‘n verwoestende aardbewing voorspel het nie, bly aardbewings nog so onvoorspelbaar soos lentereën oor die Riemland.
Herrie is by wyse van spreke ‘n ekspert met aardbewings. Jare gelede het Herrie op Skelmbos die aardbewing gevoel waarvan die episentrum naby Swellendam was. ‘n Ruk daarna kom die aardbewings van Tulbagh en Ceres se wêreld aangerol. Selfs die talle naskokke het laat weet hulle kom – ‘n mens hoor eers die gedreun aankom, en dan begin die wêreld onder jou voete skud. Dit was ‘n goeie verskoning om sonder toestemming kamer te verlaat – ‘n mens hoor nog net die dreuning, dan is die klas buite, selfs al het ons geweet dis eintlik ‘n vragmotor se dreuning wat ons hoor. Eintlik het enige dreuning gedeug, tot ‘n help-my-trap wat destyds nog algemeen was.
En van die jong Duitse buurvrou reguit uit die bad straat toe gehardloop het vir veiligheid, skoon onder haar man uit wat met die handdoek agterna gekom het, was die buurt se jongens by die geringste dreuning al voor daardie huis saamgetrek. Van hulle van ‘n hele paar straatblokke weg, maar byna oomblik daar na ‘n paar landspoedrekords in die slag gebly het.
Skaars in die Vrystaat, toe kom besoek die skudding wat Temepsthof in Welkom laat vou het die Rosestad. Herrie was daarna ‘n paar keer in Welkom as die ligte aardbewings toeslaan – dan moet ‘n man nie ‘n ogie trek nie, of die Goudvelders lag vir die man wat so niks gewoond is nie.
Toe gaan woon die Herries aan die Rosestad se westekant, en hier kom besoek die ligte aardbewings van Luckhoff se wêreld. En moenie wharrie nie, met die bou van die Van der Kloofdam is voorsiening gemaak vir dié skuddings se effek.
Die afgelope jaar of so het Suid-Afrika nog ‘n “aardbewingsone” bygekry, ook taamlike ligtes. Dis by Augrabies, maar soms is die skuddings so sterk, dit word tot in Upington gevoel. Upington is in deftige geselskap, want sy sterkste skuddings het omtrent saamgeval met ‘n taamlike skudding wat Washington DC en ‘n groot deel van die Amerikaanse ooskus getref het. Selfs Nederland het ‘n redelike skudding beleef.
Niemand weet nog, soos die aardbewings by Luckhoff en Arkansas wat in “swerms” voorkom wat dit veroorsaak nie. Wat Herrie wel weet is dat die aardkors by Augrabies rond kwaai opgehef het. Die Oranjerivier vloei sterk genoeg om sy pad deur te kerf, soos die waterval getuig, maar die Sakrivier loop te min, nou sak daai rivier niks. Is daar periodiek goeie reën in sy gebied, is dit pure water met die Brandvlei en Verneukpan en ander panne wat soos reuse binnelandse mere lyk.
Trouens, daar is mense wat glo dat voor die ysterklipkoppie dwars in die Oranje by Prieska kom kop uitsteek het, het die Oranje suid, in plaas van noord geloop. Toe het die Oranje tot naby Calvinia geloop en dan terug gedraai in die huidige Sakrivier se loop. Was dit nie vir daai koppie by Prieska nie, sou mens Brandvlei toe moes ry om die waterval te gaan kyk.
Elke week is daar wêreldwyd ongeveer 150 aardbewings van M 5 of meer. Let wel, nie 5 of meer op die Richterskaal nie. Universeel word die Magnitudemomenstsaak as akkurater gebruik, en lande wat die Richterskaal gebruik veroorsaak baie verwarring by joernaliste wat dit nie weet nie. Selfs Suid-Afrika gebruik nou al ‘n hele paar jaar ‘n aangepaste Richterskaal, en sal aanpas sodra die omskakelingsformule vir Suid-Afrika se formasies behoorlik uitgepluis is.
Kortom, ‘n joernalis wat skryf Japan is ‘n jaar gelede deur ‘n aardbewing van 9 op die Richterskaal getref, soos gereeld gebeur, blaps.
Die ergste skuddings in die Riemland is as oom Jan se Drakensbergerbul die grensdrade oorseil en by oom Sarel se Holsteinkoeie gaan kuier.