Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Aardbewing se groot skrik

Net voor die “volmaakte” storm Sandy New York nié met ‘n sandstorm getref het nie, maar met een van wind, water en modder, was daar ‘n baie groot aardbewing aan Kanada se weskus. Eintlik op ‘n eiland aan die weskus.

So sterk dat Hawaii sommer ‘n klein tsunami gekry het.

Om te dink. As ‘n mens aardbewings reg kon voorspel kon ‘n branderplankentoesias wat nie ‘n vliegtuigkaartjie Hawaii toe kon bekostig nie, sommer met sy brannderplank in ‘n japtrap soontoe getsunamiry het.

Toe skryf ‘n beefaloteler uit die VSA vir Herrie hulle bly naby Mount St Helens, en daar is ook periodiek aardbewings. ‘n Paar jaar gelede was daar ‘n frisserige een. Sy vrou was met verbouings aan die huis besig – besig om ‘n buitedeur uit te breek om hom in ‘n ander buitemuur te gaan insit.

Met een gat in die een muur, en die deur wat net uit ‘n ander muur uitkom slaan die aardbewing toe.

“Gedorie!” dink die vrou. “Nou het ek te ver gegaan en hier tuimel die huis in!”

Dis eers toe sy buite op die grasperk kom, dat ‘n buurman oor die heining wil weet of sy die aardbewing gevoel het.

Herrie het al self ‘n lig afgeskakel juis op presies dieselfde oomblik wat ‘n kragonderbreking ‘n groot deel van die land in donkerte gehul het.

Geleerdes het nou vasgestel ‘n tsunami het die Switserse stad Genève sowat 1 500 gelede getref en amper heeltemal verwoes. Dit was darem nie ‘n reuse golf in die see wat so ver geslaan het nie, maar ‘n golf in die meer wat die nedersetting getref het. Dit is vermoedelik veroorsaak deur ‘n grondstorting aan die ander kant van die meer, en, reken die geleerdes, dit kan weer gebeur.

Trouens, dit lyk of die plek waar die stad nou is, al verskeie kere sedert die laaste ystydperk getref is.

Herrie is nou nie ‘n kenner nie, maar reken Herrie sal darem nie gereeld gaan inspeksie doen daar teen die rante langs die Sol Plaatjiedam nie. Daai berg lyk nie baie na die Alpe nie.

Ai, die Hoërskool Witteberg se kaskardag roep darem herinneringe op. In Herrie se grootwordstraat het amper elke knaap ‘n kaskar – of seepkiskar gehad. Herrie s’n was spesiaal – dit was van die onderstel van ‘n babawaentjie gebou – ‘n babawaentjie met vere. Dit was ‘n blitsige gedoente, maar gelukkig het die babawaentjie, en daarom ook die seepkiskar, brieke gehad.

Ongelukke was daar wel. ‘n Seun wat later dokter geword het, het ‘n ekstra wiel gehad, en dié het hy sommer iewers aan die kant van sy seepkiskar gemonteer.

Fout, baie groot fout. ‘n Seepkiskar met ‘n vyfde wiel draai nie lekker nie, en die knaap was weke uit die skool uit.

Toe prakseer een ‘n stuurwiel vir sy seepkiskar, maar hy span die toue oorkruis. Bygesê, Herrie-hulle se straat het ‘n 90-grade draai aan die onderpunt gemaak. Toe die knaap regs wil draai in die draai in, toe draai die seepkiskar links. Die seepkiskar het in die randsteen vasgejaag, en die knaap self is gelanseer. Ook hy was ‘n ruk afwesig by die skool. So pynlik soos dit was, het die knaap gereken hy het ‘n “wins” gemaak, want hy het uitgewerk in die tyd wat hy nie skool toe is nie, het hy omtrent 36 houe vrygespring.

Die ander was vreeslik jaloers op hom.
Herman Toerien