Subscribe by Email

Herrie se kerrie – Protesteer, maar hou liefs klere aan

Met die goedkeuring van die wetsonwerp op die beskerming van staatsinligting in die Nasionale Vergadering het mense dwars oor die land in swart betoog, ook in Bethlehem.

Maar dis nie net in Suid-Afrika waar mense betoog nie. Dwars oor die wêreld word betoog, en volgens ‘n artikel wat Herrie in Trouw gelees het, begin al hoe meer mense nou om kaalbas te protesteer.

Wat maar net weer bo alle twyfel bewys: Herrie kan lees.

Die rede hoekom mense al meer in hul Adams- en Evaspakke betoog, is omdat betogings nou te algemeen word, en meer en meer gedoen moet word om die aandag te trek. Want betoog sonder om aandag te trek is ‘n futiele oefening.

Dus, die betoger, of van die betogers, of dit nou oor diereregte gaan soos die bekende kaalbassers, Peta, of Wall Street-betogers teen rykes wat ander uitbuit – die klere waai. Met Cop 17, so klink dit vir Herrie, gaan van die betogers ook die klere laat waai, maar dit gaan uithaal en wys kos om so aandag te trek, as Herrie so moet oordeel wat hy al alles op Durban en Margate se strande gesien het. Soos Worsie van Vetkoepaleis-faam gesê het: “Morge boude.”

Maar, wys die reklamekenners daarop, dit werk nie. Want ja, daar word van kennis geneem, behoorlik kennis geneem, maar al wat ons bedenklike breine registreer, is dat die spulletjie kaalbas was. Die eintlike boodskap wat die mense as naakte waarheid wou stel, dié raak weg.

Ja, by geleentheid het iemand wat vliegtuie bemark, by die Herries laat fotostate maak uit ‘n baie ou tydskrif. Foto’s van vliegtuie met modelle in die effenste onderkleertjies daarnaas. Ja, ons ouer garde sal onthou hoe niks destyds geadverteer kon word sonder dat ‘n byna kaal meisie by wat ook al geadverteer is staan nie.

En natuurlik het die bemarkers doerrietyd al agtergekom, dit werk nie. Die meisies word onthou, nie die produk nie.

Die Suid-Afrikaanse weergawe van betogings en optogte om meer aandag te trek behels meer onskuldige dinge soos om vullisdromme in die strate om te keer, klippe deur vensters en na joernaliste te gooi, kollegas te intimideer en om op ander maniere jou naam krater te maak.

En as die buitelandse betogers by COP 17 dink om kaalbas te betoog, hier is dalk ‘n bietjie statistiek om weer te dink: Suid-Afrika is die verkragtingshoofsetel van die wêreld. Meer as 66 000 klagtes oor seksuele misdaad is in ‘n jaar by die SAPD gelê. Maatskaplike werkers reken een in 10 tot 30 gevalle van verkragting word aangemeld. Die amptelike verkragtingskoers is 133 per 100 000 per jaar, en as dit nog met tien of dertig gemaal moet word is dit skrikwekkend. En nee, niemand word ontsien nie – nie ‘n baba nie en ook nie ‘n oumatjie van 103 nie.

Elke dag van die jaar moet ‘n dag van aktivisme teen die mishandeling van vroue en kinders wees – aktivisme met klere aan.

Herman Toerien