Subscribe by Email

Herman Holtzhausen, die Transkaroo man, kan moontlik sy been verloor

Herman Holtzhausen

Herman Holtzhausen, die legendariese immergroen sanger en liedjieskrywer wat veral bekendheid verwerf het vir sy trefferliedjie Transkaroo in die tagtiger jare, het in werklikheid daardie tyd al ook die loslappie waarmee Kurt Darren sy bekendheid verwerf het, ontdek. En nou moet die man hospitaal toe om amptelik die loslappie aan Darren te kan skenk.

Eintlik is hierdie ‘n ernstige saak, en Koerant het gister-aand met Herman gesels om presies die storie agter die loslappie te kan bekom.

Herman vertel aan ons dat gedurende die tagtiger jare, toe Transkaroo trefferstatus bereik het, moes hy ‘n operasie ondergaan om spatare in sy been te verwyder, maar wat niemand besef het nie, is dat die die dokter wat opereer het, ‘n gaaslappie in sy been vergeet het, en hy is met die lappie in sy been toegewerk, en huistoe gestuur na die operasie.

Vir omtrent 30 jaar het Herman dus met hierdie stukkie gaaslappie in sy been rondgeloop, sonder dat iemand dit besef het. Intussen het hierdie lappie homself so gevestig en vasgegroei tussen slagare en senuwees, dat Herman baie ongemak en las die afgelope tyd verduur het van sy been, en niemand het werklik geweet wat fout was nie.

Onlangse toetse wat uitgevoer was op Herman, het die vergete loslappie uitgewys as die sondaar van al die been probleme, en nou moet Herman na 30 jaar terug hospitaal toe om die lappie te verwyder. Maar, dit raak meer gekompliseerd as wat dit klink, omdat Herman ‘n kans staan om sy been te verloor as dinge gaan skeefloop. Volgens die dokter wat die operasie moet uitvoer, het die stukkie lappie homself na al die jare baie goed gevestig tussen belangrike senuwee en are, en dit gaan ‘n baie delikate en kundige operasie verg om dit suksesvol te voltooi. Volgens die dokter, is die ergste wat kan gebeur, dat Herman sy been kan verloor.

Herman, wat ook al gediagnoseer was met prostaatkanker, sê aan Koerant, dat as hy sy been moet verloor, gaan dit beteken dat hy been-af gaan wees, maar slegs op sy vrou. Herman wat ook ‘n ywerige rugbyspeler in sy jonger dae was, en veral bekend as ‘n goeie haker, reken ook dat hy sonder been veral gaan verlang na sy haker-dae. Gelukkig is die kanker tans in remissie, voeg hy by.

Die operasie word Woensdag die 19de Januarie uitgevoer op Herman, en ons hou styf duime vas dat alles suksesvol sal afloop, en dat Herman ook met twee bene daaruit sal kan loop. Ons bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars beland al meer en meer in hospitale deesdae, ons dink veral aan Steve Hofmeyr, met ‘n geslaagde buikoperasie ‘n paar jaar gelede, en toe die motorfiets ongeluk wat Mathys Roets verlam gelaat het, en nou meer onlangs ook Lucas Maree wat tans in die hospitaal is vir dialise en kanker behandeling. Herman het ook laat weet dat sy gedagtes met Lucas Maree is in hierdie moeilike tyd waarin hy verkeer, en dat hy hoop Lucas kan saam met hom uit hulle onderskeie hospitale stap.

One Response to Herman Holtzhausen, die Transkaroo man, kan moontlik sy been verloor

  1. Isak

    Julie 27, 2013 at 7:27 pm

    Ek wil weet wanneer die artikel geplaas is asb dit is baie belangrik