Subscribe by Email

Hekstories

In Volksblad se briewekolom ontvou nou ‘n paar interessante hekstories – regte Afrikana wat verdien om vir die nageslag opgeteken te word.

Hekke en die Suid-Afrikaanse geskiedenis is al jare lank inmekaar geweef, en die berugste hiervan is stellig die smoelslaner.

Vir diegene wat nie weet wat ‘n smoelslaner is nie: Dis ‘n slap stuk doringdraad-heining wat styf tussen die twee hekpale vasgetrek word. Onderaan die oop kant van die hek se paal is ‘n lussie waarin die onderste kantpaaltjie van die hek gedruk word. Dan word die bopunt nader getrek, maar ‘n man moet baie mieliepap in hê om sonder hulp dit tot bo teenaan te kry.

Die hulp is in die vorm van ‘n stewige stuk dunnerige hout, wat met ‘n draad aan die hek vas is. Daardie stok word dan agterom die hoekpaal om geskuif, en dan met hefboomkrag word die stok omgetrek om dié kant in ‘n lussie te kom. Dan is daai hek gespan soos ‘n kitaarsnaar.

Nou, eintlik het ‘n man drie hande nodig vir dié joppie, maar omdat ‘n man net twee het, en die hekoopmaker soms ‘n bietjie versterkwater in het, is dit ook nie ongewoon dat daai stok uit ‘n man se hand glip nie.

Dan hoor ‘n mens net “woerrr!” soos daai stokkie terug om die hekpaal gatskoonmaak.

Om te koes is eintlik onnodig, want daai stok slaat ‘n man teen die kop nog lank voor ‘n mans kan padgee. Vandaar die naam smoelslaner.

Nie alle hekke was smoelslaners nie, maar genoeg, en dis om dit te weet dat ‘n mens eintlik verstaan hoekom hekke so ‘n groot kwessie was.

Die Volksblad se hekstories het begin met ‘n leser, Piet van der Schyff wat ‘n vroeëre storie reg oorvertel het. Hy het dit daarna met nog ‘n storie opgevolg.

Om sy vertelstyl te behou, is hy self aan die woord.

Korreksie op hekstorie

Die hekstorie wat R. Swart so beeldryk beskryf (VB 11/04/2012) en aan Johan Swiegers hier van De Aar se wêreld koppel, het my en vroulief Elize lekker laat lag, veral omdat ons weet dat dit waar is – Elize was self op indirekte wyse daarby betrokke.

Maar tog, Swart se vertelling is nie heeltemal korrek nie – soos hy trouens self tong-in-die-kies toegee. Johan en sy Elize was die afgelope 18 jaar ons bure op Kwaggafontein en ons het hulle leer ken as gerekende mense wat op verskeie gebiede van die samelewing ’n leidende rol gespeel het.
Die hek-episode word dikwels in die Botha-folklore oorvertel. Dit was so teen die middel-sestigerjare, en Johan was student aan die destydse UOVS (Kovsies) – en nie aan die PUK nie. Elize Botha was eerstejaarstudent, ook aan Kovsies, en Johan het daardie betrokke dag ’n saamry-geleentheid met die Bothas Bloemfontein toe gehad.

Johan se pa, oom Johannes Swiegers (ook bekend as Oom Hannes Huss), het op die plaas Nieuwe Dam in die Strydenburg-omgewing gewoon, met die Bothas op Uitkyk, digby die N12 tussen Brits-town en Strydenburg. So ongeveer 20 km uitmekaar, grondpadlangs – met baie hekke.
Die Swiegerse het die betrokke oggend verslaap en Oom Hannes moes op die lepel staan om nie Oom Banus Botha se rit Bloemfontein toe te vertraag nie. Tyd vir die laaste hek oopmaak, was daar eenvoudig nie – hy is oopgery!
Die stertjie van die storie het ons ook soos briefskrywer Swart: Oom Hannes wat agterna vir die waarskynlik verskrikte Johan gesê het dat hy nie moet “worry” nie, hy sou die hek met die terugkomslag toemaak!

Enkele jare later het Johan sy Elize, ook ’n Kovsie en daar uit Jacobsdal se omgewing, as onderwyseres op De Aar ontmoet.

Piet van der Schyff

Sweetfontein, Britstown

Nog ’n Karoo-hekverhaal

Graag deel ek nog ’n klassieke “hek-storie” van die Karoo. Twee jong manne het laat op ’n Saterdagaand ’n donkiekar voor ’n toe hek aangetref met die donkiekardrywer wat sy kuier-roes afslaap.

Die twee manne het hulself eers deurgehelp, en toe die twee donkies uitgespan, hulle deur die hek gelei, die kar se disselboom deur die openings in die hek gesteek en toe weer die donkies ingespan.
Iemand het skynbaar vroegoggend waargeneem: Die drywer het gaap-gaap en oë-vrywend opgestaan, en toe rek sy oë albastergroot: Sy donkies is dan al deur die hek!

Van iewers het hy ’n toutjie te voorskyn gebring en hek toe gestap, die openings van die draadblokke in die hek in lengte en hoogte gemeet. En toe die donkies se kop en ore. Weer die openinge, dan weer die kop en ore. Toe sy kop driftig geskud, sy tong ongelowig geklap: Dit kon tog nie!
Piet van der Schyff

Sweetfontein, Britstown

Oujaarshekkaskenades

Toe die uwe ‘n kwarteeu gelede plaas-skoonouers ryker geword het, was plaasaanvalle en ander plaasmisdaad nog nie so algemeen nie. Of, soos ‘n voormalige president gesê het, nog nie goed gerapporteer nie.

Dit was nietemin in die stuiptrekdae van ‘n ou Oos-Vrystaatse “tradisie” …om op oujaarsaand plaasmense wat weg is vir die oujaarsdans, se plaashek met iets te gaan vasdraai.

Om ‘n paar uur na middernag by ‘n toe plaashek te kom, is al ‘n beslommernis. Daarom word gewoonlik gesorg dat die vee daardie aand elders wei, sodat die hek maar oopgelaat kan word.

Gewoonlik is die sonde dat hekgangers die hekke wat hulle toe kry, oop los veral as dit ‘n smoelslaner is. Die gewone plaashek laat ook gereeld iets brand, maar dis die deel waarop ‘n mens die sitwerk doen, en van hek ry. Hek-ry is baie lekker as mens klein is, maar dit verniel die hek, en kort voor lank sleep die punt in die grond, en is hekoopmaak en toemaak baie moeite.

Maar die nag wat jy die hek oop gelos het, het iemand dit kom toemaak. En as mens die hek gaan oopmaak, is dit stewig vasgewoel.

Omdat dit ‘n tradisie was, het die meeste manne die nodige gereedskap saamgery – gewoonlik sommer ‘n boutknipper.

Die aand is ons ‘n halwe brood (halwe kombi met ‘n bakkiekap agter) mense, van speenoud tot stokoud, wat ons tradisieryke plig gaan doen. Toe hekke word gou vasgedraai, en oop hekke word toegemaak voor dieselfde gedoen word.

‘n Jong egpaar begin torring: “Wat van oom Harry se hek?”

Oom Harry, intussen saliger, was self ‘n opperste platjie en om sy hek vas te draai was sonde soek, want ‘n oneindige verskeidenheid onheile kan jou daarna in die vorm van onverwagse poetse oorval.

Die skynbare konsensus was dat oom Harry se hek buite perke is, maar kort voor lank pols die paartjie weer. Snuf moes mens seker in daardie stadium snuf in die neus gekry het.

Nie lank nie word voor oom Harry se hek stilgehou, en dié staan wyd oop.

Die uwe was op “bystand” vir dié hek, spring uit en begin die hek toesleep. Daar is bietjie weerstand, en die oggend se pap skop in. Die hek kom, maar so ook die helfte van die boom waaronder dit staan. Dié lyk of dit ontplof, die ene flitse en slae. Ge-“boebietrêp.”

Maar ek was self deur die weermagopleiding hiervoor, en dié is ‘n vulletjie. Die hek word dus bloot toegetrek, en met ‘n stuk kabel van die laaste Telkom-kabelsdiefstal wat agtergebly het vasgedraai. Soos goed vasgedraai.

Binne die halwe brood is dit tjoepstil toe ek oopmaak.

Toe, “Het jy geskrik?” kom dit van die jong paartjie se kant af. Toe weet ek wat ek lankal vermoed het. Hulle was met oom Harry kop in een mus oor sy hek. “Waarvoor?” wil ek ongeërg weet.

Die spoek by die hek

Pa Jan, ook al lank heengegaan, het in Nieuwoudtville in die Noordweste in grootgeraak. As kind had hy ‘n klompie lewenslange maats, en twee, oom Andries van Zyl, en oom Andries Louw, het dieselfde voornaam gedra. Pa het dié stories by oom Andries oorgeneem, maar ek weet nie watter oom Andries nie.

Oom Andries se mense het saans die plaaswerkers en hul gesinne opstal toe laat kom om saam met die gesin aandgodsdiens te hou. Dit was dus ‘n hele prosessie wat saans aangestryk gekom het, en deur ‘n hek wat moes toe bly, anders het die byle gehuil.

Een aand kan oom Andries nie die versoeking weerstaan nie, en hy gaan lê die prosessie by die hek met ‘n laken voor.

Hy wag tot hulle deur die hek is, en die hek toegewoel het, en begin aanstryk het opstal toe. Toe val hy so ongesiens moontlik met die laken oor die kop by hulle in.

Dié gedaante word byna dadelik gewaar en alarm gemaak, en toe word die rieme neergelê opstal toe. Oom Andries agterna.

“Maar,” het oom Andries vertel, “nie lank nie toe is dit al of daar sulke koue ysvingers in sy rug begin vat-vat kry. Ek kom los voor die ander by die huis aan.”

Nog ‘n spoek by die hek

Of dit dieselfde oom Andries was, en dieselfde hek, dit weet ek nou nie. Maar een van die plaaswerkers is by daai hek gelem, en die lyk het lank daar gelê voor die polisie klaar met hul ondersoek was, en die lyk dorp toe geneem is.

Oom Andries merk dat daai hek daarna saans so ver moontlik vermy is, en as daar gedeur moes word, is daar vinnig gedeur.

Die melkman gaan laaste huis toe, en oom Andries gaan lê hom, met laken toegerus, by die hek voor.

Die man is opsigtelik katvoet, en is blitsig deur die hek, die hek weer netjies agter hom toegewoel, en hy wil net begin aanstryk na sy werkershuis toe, toe die gedaante agter die bosse uitkom.

Maar as ‘n man in die nood is, dink jy vinnig, en die man trek weg met “Prys die Heer.” Die spook begin retireer, en die sanger begin slap trek, waarop die spook weer naderkom. Dan woord weer uit volle bors gesing. Naderhand is die spook terug agter die bosse in gesing, en die arme melker se knieë dra hom huis toe.

Die volgende dag is oom Andries saam met die plaaswerkers agter op die bakkie, en hy hoor die vertelling aan, soos kollegas nou in kleur en geur oor die noue ontkoming ingelig word.

“Nou wat het djy vi daai spoek gasing?”

“Prys die Heer.”

“Ma moes djy nie einklik: O rus my siel, gasingetie?”

“Nei, ek wietie, ma dit het darem gehelp.”

Die hoedens

Pa se pa het uit die Toeriens van Porterville en Piketberg gestam, maar sy ma was ‘n nooi van Albertinia – Mosselbaai se distrik. So het die Toeriens se tradisie begin om veral Desembervakansies Mosselbaai se kant toe by die groot dam te gaan uitspan. “Kamp” het ouma dit gedoen, maar kamp soos ons dit verstaan sou dit beslis nie wees nie. Ouma en haar broer is grootgemaak om vir alles en nog wat bang te wees. Vakansies sou dus iewers onder ‘n stewige onderdak wees.

Van ek kan onthou, was dit die Bakke. Oupa het toe lank nie meer geleef nie, maar die oorspronklike gesin het uitgebrei – net die ou “bangalo”, die houthuisie by die see, het nie. In elke moontlike en onmoontlike gaatjie is nes geskop om vir almal onder een dak gekooi te kry.

Maar toe pa-goed nog ‘n jong seuntjie was is van Nieuwoudtville af gery. Reguit binneland in om by Mosselbaai uit te kom. Watter pad, dit weet ek nou nie, maar wat ek weet is daai pad was vol hekke, en skynbaar smoelslaners.

Wat ek onthou, is dat die kar nie ‘n kattebak gehad nie. Agterop was wel ‘n oop “crrier” en hierop is die tasse en ander bagasie vasgewoel.

En wat ek ook weet, is dat dit hoedemode was, en baie hoede moes die rit meemaak. Dié is in sulke ronde tasse saam gekarwy, en is ook agter op die “carrier” vasgewoel.

Gewoonlik, as ‘n mens daai pad aandurf, is daar gou ‘n jong bruin seun by wat op die spatbord buite gestaan en saamgery het, en vir ‘n ietsie die hekke oopgemaak het. By die laaste hek wag hy weer vir ‘n geleentheid terug om weer hekke oop te maak vir ‘n ietsie.

Pa sê hulle was al ver toe oupa merk een van die hoedetasse het oopgeraak en hoede begin verloor. Hy hou stil en deel die ontstellende nuus mee.

Hy probeer keer vir omdraai, want ouma had nog oorgenoeg hoede vir die vakansie, maar ouma is onverbiddelik.

Die hekoopmaker gee kennis. Hy bedank. En so was dit pa en sy kleinboet se werk om byna die hele pad terug die hekke oop te maak, en die hoede wat die veld vol gewaai het, in te hol. Hier en daar het ‘n hoed darem teen ‘n bossie vasgewaai geraak, en so is almal bymekaar gekry, die dieselfde hekke ‘n derde keer aangedurf.

Die stapper

Jan Spies, meen ek, het dié ene vertel. Iewers aan die Weskus het ‘n man uit die binneland see se kant toe gery, en kort-kort was daar ‘n hek. Smoelslaner of nie, alleen ry en hek oopmaak is ‘n groot werk. Eers stilhou, die hek oopmaak, dan deurry, weer stilhou en uitklim, en die hek weer toemaak, en dan verder ry tot by die volgende hek.

En dis snikheetwarm, soos dit daar in die koers van die Knersvlakte maar kan word.

Toe kry hy ‘n man wat asvaal gestap in dieselfde rigting onderweg was. Hy bied saamrygeleentheid aan.

Maar in plaas van dankbaarheid, kry hy ‘n woedende reaksie: “Jy kan jou eie *&^% hekke oopmaak!”

Stapper in die reën

Ma-Johanna het jare gelede dié enetjie vertel.

‘n Dominee is aan die huisbesoek doen. Dit reën, en kort-kort is daar hekke.

Toe ry hy by ‘n voetslaner verby, en omdat hy nie vir ‘n papnat passasier kans sien nie, hou hy verby terwyl sy gewete hom kliphard aankla.

Net ‘n entjie verder, het die karretjie ‘n pap wiel.

Terwyl die dominee omruil en papnat reën, kom die voetganger verby en bied nie aan om te help nie. Later ry die dominee weer by die voetganger verby, en omdat hy nie wou help nie, hou die dominee weer verby.

Maar net ‘n entjie verby gly die karretjie en bly steek in die modder.

Weer reën die dominee nat terwyl hy bossies bymekaar bring en onder die wiele inwoel. Naderhand is die karretjie weer aan die loop, en weer haal hy die stapper in. Dié keer ry hy nie verby nie.

“Saamry?” vra hy die stapper.

Die stapper kyk hom ‘n oomblik aan, en antwoord beleefd: “Nee dankie, ek is vandag bietjie haastig.”
Herman Toerien