Subscribe by Email

Hare waai oor skole-godsdiens

Dis oorlog oor skole-godsdiens.

Prof. George Claassen, voorsitter van die organisasie Skepties Suid-Afrika, het die naweek formeel begin om skole te monitor ten einde dié wat Bybellees en gebed in klastye toelaat moontlik strafregtelik te laat vervolg.

Claassen, ook ’n buitengewone professor aan die Universiteit van Stellenbosch, tree op namens ’n groep ouers wat ontevrede daaroor is dat godsdiens wederregtelik in skole bedryf word. Die skole wat hy in sy visier het, sluit vooraanstaande instellings soos die Laerskool Stellenbosch en Linden se Laerskool Louw Geldenhuys in.

Skoolhoofde en onderwysorganisasies het ontstoke gereageer dat Skepties Suid-Afrika die regeringsbeleid oor skolegodsdiens waninterpreteer.

“Die Grondwet sê jy kan nie godsdiens afdwing nie, maar jy kan ewe min die afwesigheid van godsdiens afdwing,” reageer prof. Rassie Malherbe, grondwetkenner aan die Universiteit van Johannesburg.

Claassen meen onder meer dit is onaanvaarbaar dat skole soos die Laerskool Stellenbosch hulself amptelik beskryf as ’n skool met ’n “Christelike karakter” waar “Christelike waardes” onderrig word.

Volgens Claassen sou daar verlede jaar by dié skool ’n Jesusweek plaasgevind het waartydens kinders geel strikkies kon dra indien hulle gelowig was. “Dit is net omdat ouers met ’n sekulêre wêreldbeeld oor dié openlike oortreding van die nasionale beleid oor godsdiens in onderwys gekla het dat die skool die Jesusweek gekanselleer het.

“Onderwysers gebruik klastyd om Christelikheid te onderrig en ’n Christelike skeppergod te aanbid.”

Dr. Johan van der Merwe, voorsitter van die Laerskool Stellenbosch se beheerliggaam, meen Claassen beskuldig die skool verkeerdelik. Hul godsdiensbeleid “is nagesien en in orde bevind deur vooraanstaande kenners van die onderwysreg en konstitusionele reg.

“Dit is bevestig deur die direkteur van onderwys in die Wynlandstreek en die twee kringbestuurders.”

Die onderwysdepartement het glo ook al die godsdiensbeleid van die Laerskool Stellenbosch ondersoek en geen fout daarmee gevind nie.

Volgens mnr. Hawkie de Villiers, skoolhoof, is die deelname aan dié skool se godsdiensaktiwiteite “absoluut vrywillig”.

Mnr. Arrie Genis, skoolhoof van die Laerskool Louw Geldenhuys, het gesê die beskuldigings teen sy skool is feitelik verkeerd.

Mnr. Jaco Deacon, nasionale bedryfshoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse skole, meen die regeringsbeleid laat wel ruimte vir godsdiens in skole.

“Ingevolge die raamwerk van die Grondwet kan ’n skool steeds ’n Christelike of ’n Moslemskool wees. Die Grondwet bepaal bloot jy kan nie meer alle leerlinge verplig om aan godsdiensaktiwiteite deel te neem of mense met ander menings uitsluit nie. Skole moet begrip en verdraagsaam- heid kweek, eerder as om een siening rigied af te dwing.”

Baie skole het glo selfs ’n godsdienskomitee sodat ’n verskeidenheid kerke in die omgewing betrokke kan raak.

Volgens Malherbe, wat al artikels oor die grondwetlikheid van skolegodsdiens gepubliseer het, is enige beleid oor dié kwessie ondergeskik aan die Grondwet se beskerming van godsdiensvryheid. Regter Arthur Chaskalson van die konstitu­sionele hof het reeds in die 1990’s bevind die staat moet ’n ruimte skep waar mense hul geloof vrylik kan beoefen. Dit sluit openbare skole in, meen Malherbe.

Daarenteen beskou Claassen sy organisasie se standpuntinname die naweek as ’n ultimatum aan skole.

“Skepties Suid-Afrika oorweeg dit om strafregtelike klagte teen skole aanhangig te maak tensy dié optrede dadelik gestaak word en skole begin om die nasionale beleid oor godsdiens in onderwys te gehoorsaam. Ons woon nie meer in Nazi-Duitsland of die apartheidstaat nie.”

– Rapport

Vir meer hieroor, besoek Rapport