Subscribe by Email

Halfeindstryde

Die spaanders gaan Saterdag waai wanneer die halfeindstryde om vanjaar se Curriebeker plaasvind.

In die “hoofwedstryd” speel die Ligawenners, die Goue Leeus, in Johannesburg teen die WP wat sy wêreldbekerspringbokke weer beskikbaar het, en in die ander speel die Haaie op hul tuisveld teen die Cheetahs. Die Cheetahs het net ‘n beseerde Springbok uit die Wêreldbeker ryker geword, maar ‘n rits ander beseerdes wat weer perdfris is sal verseker dat die Cheetahs Saterdag nie weer met ‘n byna voltallige ambulansspan op die veld draf nie.

Na die naweek se wedstryde is dit onmoontlik om ‘n voorspelling te waag. Skielik lyk die Leeus nie meer na die gunstelinge teen die WP nie, en lyk die Haaie met sy wêreldbekerspelers ook na ‘n span waaroor die afrigter nie meer sy mond so hoef uit te spoel nie.

Dis natuurlik baie moeilik om behoorlike perspektief te kry. Die Leeus was reeds seker van ‘n tuishalfeind, en sou hulle dit wen, van ‘n tuiseindstryd. Die motivering teen die Haaie het dalk effe ontbreek, maar die helse loesing wat hulle op die lyf gaan loop het sal tog die span bekommer.

Die Cheetahs het ‘n dubbele belang by Saterdag se wedstryd. ‘n Derde neerlaag vanjaar teen die Haaie beteken die einde van vanjaar se Curriebekerdrome, terwyl die span nog in die eindstryd op die Vrystaatstadion kan speel as die WP met die Leeus klaarspeel.

Die Cheetahs het egter vanjaar by tye briljant vertoon, maar teen die sterker spanne het die span klei getrap. Nie net was die Haaie twee keer baas nie, die Cheetahs het ook ‘n neerlaag teen die Bulle en die Leeus elk op die lyf geloop en in die omkeerwedstryde gelykop gespeel. Die WP is wel twee keer afgestof. Nogtans sal net die mees lojale Cheetahondersteuner die Blikore as die gunstelinge teen die Piesangboere beskou. Kry die Vrystaters die skoplus onder beheer, is enigiets egter moontlik. Om die Haaie se agterste driekwarte met mamparraskoppe te gaan toets is skoorsoek, en vanjaar ‘n rol gespeel in elkeen van die Haaie se oorwinning oor die binnelanders. Die Cheetahs sal ook met Willem Alberts moet plan maak as hulle nog verdere seggenskap in vanjaar se reeks wil hê. Teen die Cheetahs vertoon Alberts soos taks soos ‘n eenmanoorlog.

Vanjaar se halfeindrondte is half vreemd in die sin dat die Blou Bulle afwesig is. Uiteindelik was dit te veel gevra dat die Pumas die WP hoogstens tot ‘n naelskraapse oorwinning moes dwing. Die Pumas het probeer, maar uiteindelik was die WP te vol skietgoed.

Na die Leeus se huilvertoning teen die Haaie moet die Johannesburgers verskoon dat geen regdenkende mens veel voorspellings oor die Leeus se wedstryd teen die WP wil maak nie. Dis egter ‘n ander wedstryd met heeltemal ander uitkomste in die kaarte, en dus sal die Leeus in alle waarskynlikheid ‘n beter vertoning opdis. Speel hulle met al hul vonkproppe skoon, is daar geen rede waarom die eindstryd nie in die Goudstad gespeel gaan word nie.

Herman Toerien