Subscribe by Email

Gyselaarsdrama by Grootvlei myn aan Oos Rand

‘n Gyselaarsdrama speel hom af by die myngroep Aurora se Grootvlei myn aan die Oos-Rand. Volgens die eienaar van ‘n regsfirma, wat anoniem wil bly, is drie van haar firma se verteenwoordigers vanoggend omstreeks nege-uur op die mynperseel deur stakende mynwerkers as gyselaars geneem.

Dit volg te midde van die dood van ’n werker van die Grootvlei-myn in Springs, wat doodgeskiet is deur ’n sekuriteitswag,  nadat hy ’n koper­kabel gesteel het in ’n desperate poging om geld vir kos te kry.

Mnr. Lesiba Seshoka, woordvoerder van die National Union of Mine-workers (NUM), het gister gesê werkers vergaan van die honger. Volgens Seshoka het die Grootvlei-myn se meer as 2 000 werkers ’n droewige Paasnaweek beleef. Die krag by die myn is steeds af en die mynkombuis is gesluit omdat Aurora die diensverskaffer meer as R5 miljoen skuld.

Mnr. Gideon du Plessis, adjunkdirekteur van Solidariteit, het gister gesê van die mynwerkers wat die naweek uit hul huise geskop is omdat hulle nie die huur kon betaal nie, het nou in leë strukture op die myngrond ingetrek. Solidariteit se Helpende Hand sal ook vandag koskoepons uitdeel sodat mense kruideniersware kan koop.