Subscribe by Email

Guptas ontken hulle probeer Prasa kaap

0000226538Die Gupta-familie het berigte ontken dat hulle probeer om die Passasier-spooragentskap van Suid-Afrika te kaap. ‘n Sondagkoerant het berig dat Prasa se voormalige uitvoerende hoof, Lucky Montana, in ‘n brief beweer het dat die familie en president Jacob Zuma se seun, Duduzane, probeer het om die agentskap te kaap en voordeel te trek uit ‘n tender van 51-miljard Rand wat die grootste in Suid-Afrika se geskiedenis is. Die Guptas sê dit is nog ‘n voorbeeld van ‘n polities-gekoördineerde veldtog teen die familie wat met die hulp van die media gevoer word.

Opposisiepartye het Openbare Beskermer Thuli Madonsela gevra om haar ondersoek na die Guptas se sakebelange uit te brei. Die Demokratiese Alliansie vra dat die ondersoek so omvattend moontlik moet wees en die Ekonomiese Vryheidsvegters sê solank Zuma president is, sal die land voortdurend misluk. Congress of the People sê dit het tyd geword dat Suid-Afrikaners toerekenbaarheid van staats-ampsdraers eis.