Subscribe by Email

Groot skrootwerfmaatskappy na bewering betrokke by koperdiefstal

Die Valke het op ‘n groot hoeveelheid koper beslaggelê wat vermoedelik gesteel en by ‘n skrootwerf aan die Wes-Rand geberg is. Daar word vermoed dat baie van die koper van Joburg City Power en Metrorail gesteel is. Een van die land se grootste skrootmetaal maatskappye, die New Reclamation Group is na bewering by die kwessie betrokke.

‘n Woordvoerder van Metrorail, Jan Jordaan, sê hulle het opgemerk dat daar heelwat van die koper is wat in die afgelope paar weke van hulle oorhoofse kabels gesteel is. Die diefstal van koperkabel raak ondermeer telekommunikasie, spoorvervoer en kragtoevoer. Die geraamde waarde van die herwonne gesteelde koper word op vier miljoen rand geraam.

Die bestuurder van die wrakwerf is ook in hegtenis geneem. Sy werkgewer hou egter vol dat hulle niks verkeerd gedoen het nie. ‘n Regsverteenwoordiger van die “New Reclamation Group”, Michael Strauss, sê die maatskappy het ‘n baie streng beleid om nie gesteelde goedere te koop nie. Hy sê die koper is ingevolge geldige kontrakte aangekoop. Die Valke het die maatskappy intussen gevra om die nodige papierwerk te toon wat aandui dat die koper wel wettiglik aangekoop is.