Subscribe by Email

Groot skrik in die kollig

Die heel tyd wat die uwe lees aan oud-redakteur van die Volksblad, Hennie van Deventer se storie oor kaalmoles, is dit of daar iets, iets van de ja vu wil –wil deurbreek.

Die nuus oor oud-minister Piet Badenhorst se afsterwe het op ‘n vreemde manier die grysstof agtermekaar gekry. Piet was naamlik die adjunk-minister verantwoordelik vir die destydse verhoudingsaksie, en die uwe ‘n verhoudingsbeampte.

Een nag laat wikkel die Corolatjie van Heilbron, waar ‘n verhoudingskomitee-vergadering plaasgevind het, terug Bloemfontein toe. Sulke ver ritte is altyd so uitgewerk dat ‘n par belangrike besoeke onderweg gebring is, met ‘n nag of twee se uitslaap. Tuis wag vroulief en oudste, skaars gebore.

En soos dit nou maar dikwels gaan, in die haas om huis te kry het ‘n man nie voor die ry eers gou die nodige laaste draai gaan loop nie. Sommer iewers langs die pad. Dis mos donker, wat.

Bedags is dit ‘n ander storie as ‘n fase van Pisberteriaanskap ‘n man oorval. Dan is dit dikwels bosse in, as daar op die kaal haai Vrystaatse vlaktes so iets is, of oor drade klouter (wat daar is om mense in sulke noodsituasies uit te hou) om die privaatheid van ‘n bruggie op te soek. En as mens daar instap, sien (en ruik) ‘n mens hoe min mense word werklik deur daai drade uitgehou.

Om die donkerte as dekking te gebruik, is nie heeltemal sonder kuns nie. Dis gelyk, en kopligte kan ver lig gooi. Om ‘n geskikte tyd te kry, moet ‘n man dus seker maak daar is nie lig in die truspieël nie, en ook nie iets van voor wat aankom nie.

Dié aand lol dit egter. Almal op Heilbron is onderweg Koppies toe, en omgekeerd.

Maar toe is dit skielik voor en agter donker, en die uwe sleep die karretjie tot stilstand, en suiker knyp-knyp om die kar en korrel veld se kant toe.

Wat toe volg klink na ‘n wolhaarstorie, maar dis die reine waarheid. So met die verligting op die bakkies is die kollig eensklaps vol op…

Wel, verbystering versprei oor die bakkies oor die helder kollig wat skynbaar van nêrens uit die veld sommer so met die aangaanslag die, e, wel, teiken tref en die saak belig.

Die effense Anglisisme sê dit dalk beter – lig op die onderwerp werp, met klem op die onder.

En as ‘n man so lank geknyp het is dit ook nie sommer vir kraan toedraai nie. Soos ‘n ballerina, nee, ‘n ysskaatser, word ‘n hakskeendraai uitgevoer en die getuienis na die kar gerig.

Is dit ‘n wilddief? Die Kommando wat iemand in die donker voorgelê het?

Dan kom ‘n voertuig se gedreun oor die veld angesweef, en die kollig swaai weg. Vlugtig word ‘n opstal verlig, en toe kom die ligte in die rigting van die pad aangery. Duidelik is daar nie Eskomkrag nie, en die ryding is so donker-donker gehaal – dalk vroegaand voor die deur geparkeer vir die laataand se ry.

Kom hy nou moeilikheid maak?

Maar toe die voertuig ‘n ent terug die teerpad slaan, draai dit sy kopligte weg Heilbron se kant toe en laat waai. Kraamsaal toe dalk? Werkers wat aan die baklei geraak en ‘n messteek dalk? Met baie plaasfamilie skiet ‘n horde moontlikhede deur die kop.

Intussen is die kerkverbandstorie afgehandel, en die uwe klim baie verlig as lidmaat van ‘n susterkerk weer agter die stuur in.

En ry verder wég van Heilbron af.