Subscribe by Email

Groot aardbewings elders en Kalifornië kry ritteltits

Na ‘n effense afwesigheid van redelike groot aardbewings om die Ring van Vuur en ‘n afname van trillings en ligte skuddings in Kalifornië, het ‘n paar stewige skuddings oorkant die Stille Oseaan skynbaar weer Kalifornië laat tril. Op die oomblik lyk dit of die blokkies wat aardbewings en trillings van sterker as M2,5 aandui, aan die Kaliforniese kus moet skrum vir ‘n plek op die wêreldkaart.

Die redelike grotes wat onlangs voorgekom het is een van 6.3 suid van oostelike Siberië, en een van M 6,2 by Japan. Op 31 Julie was daar ‘n sterke van M6,8 naby Papa Nieu-Guinee en twee dae daarvoor een van 6,7 by die Fidji-eilande. Op die oomblik bly aardbewings en trillings hoofsaaklik gekonsentreer aan die skiereiland van Alaska, Japan, die eilande nood van Nieu-Seeland, Kalifornië en die bek van die Karibiese See. Die trillings by die Karibiese See is gewoonlik lig, maar na daar meer aktiwiteit op die Mid-Atlantiese Oseaanrif, wat daar betreklik naby kom was, was dar nou ‘n redelike bewing van M5. Dis dieselfde sterkte as die stewige trilling wat Griekeland pas geskud het.

‘n Interessante verskynsel is dat die aardbewings wat gewoonlik baie diep onder die oppervlak by Fidji ontstaan – gewoonlik in die omgewing van 500 Km, nou dikwels veel vlakker, naamlik op ‘n diepte van net meer as 40 Km ontstaan. Elders gebeur die omgekeerde.

Die diepte van aardbewings is gewoonlik ‘n aanduiding van hoe ver die episentrum is van die trog waar die een plaat onder die ander een ingedruk word.

As ‘n mens ‘n werklike grote wil voorspel – ‘n behoorlike dobbelspel – moet ‘n mens geoordeel op vanjaar se patroon omtrent nou ‘n paar aardbewings van ongeveer M7 begin verwag, en dan kort daarna in dieselfde omgewing ‘n werklike grote. Die laaste werklike grote, een van M 7,6 by die Kermadec-eilande noord van Nieu-Seeland op 6 Julie is egter nie deur beduidende voorafskokke voorafgegaan nie, maar wel deur ‘n horde naskokke.
Herman Toerien