Subscribe by Email

Groot aardbewing Doer Onder

‘n Aardbewing van M 7.5 het pas by die Vanautueiland wes van Australië voorgekom. Dié aardbewing is deur ‘n taamlike sterk voorskok, en reeds drie sterk naskokke gevolg. Ook suid van Kermadic-eilande, in die rigting van Nieu-Seeland se Noord-Eiland, het ‘n fris aardbewing voorgekom, wat moontlik ‘n naskok mag wees.

Aardbewings in dié omgewing was taamlik volop na ‘n aardbewing van M 7,6 op 6 Julie die Kermadic-eilande getref het, en sedertdien gereeld naskokke beleef.

Die laaste aardbewing van M 7 of meer was op 10 Julie naby Honshu in Japan.

Vanjaar is wat sterk aardbewings betref nog effens rustiger as verlede jaar. Altesaam 20 aardbewings van M 7 of meer, waarvan een aan die kus van Chili M8.8 gemeet het, het verlede jaar voorgekom. Vanjaar is reeds aansienlik by die halfpadmerk verby, en het so ver “net” nege van 7M 7 of meer beleef. Een hiervan was die grote van M 9 wat soveel dood en verwoesting in Japan aangerig het.

Hoewel dit op die kaart lyk of Nieu-Seeland, veral die Noord-Eiland enige oomblik deur ‘n sterk aardbewing geteister kan word, werk dit gelukkig nie in die praktyk so nie.

Herman Toerien