Subscribe by Email

Grondwetlike erkenning kom vir Chileense Indiane

Die Chileense president, Sebastián Piñera, het aangekondig dat hy as hoogste prioriteit en spoedeisend gaan sorg dat die Mapuche-Indiane grondwetlike erkenning kry.

Die Mapuche, wat vandag in Chili en die Argentynse Pampas woon, is nooit deur die Inkas verower nie, en ook die Spanjaarde kon hulle nooit behoorlik onder die knie kry voor Suid-Amerikaanse lande onafhanklik geword het nie. Blankes kon eers teen die einde van die 19de eeu dele bereik.

Vandag is minder as vyf persent van die Chileense bevolking Mapuches, en tel sowat 700 000. Sedert 1993 geniet die Mapuches en ‘n aantal ander inheemse groepe wetlike erkenning, maar is steeds erg onderverteenwoordig in veral die nasionale regering. Die Mapuches en die Chileense regering is deurlopend oorhoeks oor grondeise en ander besittings wat die inboorlinge ontneem is.

Piñera het gesê grondwetwysigings sal dit moontlik maak dat die land historiese skuld aan die inheemse gemeenskap sal kan vereffen.

Die Mapuche is besonder aktief in die Unrepresented Nations and People’s Organsation (UNPO), en Piñera is onlangs, toe hy die Europese parlement toegespreek het, deur verteenwoordigers van verskeie lande met skerp vrae gepeper. Hy het toe die Mapuche die siel van die Chileense nasie genoem.

Herman Toerien