Subscribe by Email

Grondeisehof uitspraak verwelkom

TLU SA is verheug oor die uitspraak van die Grondeisehof in Johannesburg, waarvolgens die Baphiring-stam se eis om grond in die Koster-distrik van die hand gewys is.

“Dit is verblydend dat die hof voedselsekerheid in ag geneem het, bo politieke oorwegings en TLU SA sien daarna uit dat onafgehandelde grondeise, voortaan ook op streng ekonomiese basis afgehandel sal word,” sê die President van TLU SA, mnr. Ben Marais.

“Ons het ook deeglik kennis geneem van die getuienis van ‘n amptenaar van die plaaslike grondeise kommissaris dat die 330 hervestigingsprojekte onder sy bestuur almal mislukkings is.  Ons hoop net dat die amptenaar nie nou moeilikheid gaan kry omdat hy die waarheid geopenbaar het nie, maar dit is noodsaaklik dat hiervan kennis geneem word, want dit bevestig TLU SA se lank verklaarde standpunt dat dit roekeloos is om met grondhervorming voort te gaan as die projekte misluk en produserende plase uit produksie gehaal word ter wille van politieke doelwitte met ‘n rassistiese ondertoon,” sê mnr. Marais.

Mnr. Marais het ook gevra dat reeds afgehandelde eise, in die lig van hierdie uitspraak, weer ondersoek moet word om seker te maak dat daar nie ook gevalle is waar grond aan gemeenskappe of individue oorhandig is, terwyl hulle in die verlede ook reeds kompensasie gekry het, soos wat die geval was met die Baphiring-stam wat  reeds voorheen vergoed is nie.  “Die staat kan dalk op grond daarvan heelwat geld terugkry en dit dan eerder stort in suksesvolle hervestigingsprojekte, indien hy nie daardie grond aan die laaste kommersiële boere sou wou teruggee nie.”