Subscribe by Email

Griekwas blink

As Griekwas die junior span in die Cheetah-vennootskap is, het iemand nagelaat om die manne van die Diamantstad daarvan te sê.

Griekwas, op hul tuisveld, is ‘n riller soos die Haaie ook vroeër die seisoen ontdek het.

Nou het die Cheetahs van die Rosestad kom leer dat daar nie plek vir prima donnas op die rugbyveld is nie. En dat besit nie weggeskop word nie – dit neig om onder die Cheetahs se eie pale te eindig. Teen dié tyd sou die Cheetahs al begin wens het die persoon wat begin het met die aandrang op skoppe in die hoeke om druk op te sit, se ma het hom kleintyd doodgelê. Dit het miskien gewerk toe heelagters balle na-aan hul doellyn soos klokslag oor die kantlyn geskop het – maar HO de Villiers wat dit nek omgedraai het het nie gister sy strooptogte van agter af uitgevoer en die spel op sy kop omgekeer nie.

Die gevolg is dat die Cheetahs darem een punt uit die wedstryd beredder het en nog sy neus so ‘n aks voor die Blou Bulle het.

Vir die Cheetahs het sake voor die wedstryd al op ‘n Noord-Kaapse sinkplaatpad beland toe WP Nel as vaskop onttrek het. Coenie Oosthuizen het aanvanklik klippe gekou toe hy moes gaan anker. Die instaan-loskop, Marcel van der Merwe het goed gevaar tot hy ‘n geel kaart op die lyf geloop, en Griekwas beide hul drieë gaan druk het.

Na die wegholsege oor die Pumas ‘n week gelede was dit seker te wagte dat die Cheetahs minder gefokus sou wees, en by tye briljante spel ongedaan sou maak met ‘n aanslaan of ‘n ander blaps.

Feit is egter dat Griekwas darem ook meer as net op die veld was, verbete gespeel het, nooit moed opgegee het nie, en by tye ook briljante spel ingeryg het. En as daar Griekwas is wat swakker as hul Blikooropponente is, het daardie Griekwamanne bo hul vermoë gespeel want dit was nie sigbaar nie.

Vir die Cheetahs wag daar nou bestekopname – eers om te kyk wie se hardeveld-skeet hom eers van die veld af gaan hou na die pynpolisie oortyd gewerk het – en dan wie beskikbaar is, om dan die ratte geolie te kry. Gelukkig is daar diepte en begin van die gebruiklike ysters ook weer slaggereed word.

Die seisoen is nou net mooi halfpad in die ligafase, en die Cheetahs sal graag ‘n tweede helfte met minder afdae wil beleef.

Vir die rugbybase wat besluit het die prima-Curriebekerspanne moet verminder word, bly vanjaar ‘n onlekker jaar, met die voorste spanne wat gereeld sukkel om die kleintjies onder die knie te kry. Dié naweek was weer geen uitsondering nie, met die Pumas wat opgestaan en die WP goeie kompetisie gebied, en die Luiperds wat die Blou Blulle ook maar flouerig laat lyk het.

Herman Toerien