Subscribe by Email

Goudprys stof prys van platinum uit – komplekse redes

(Hierdie artikel is ‘n Afrikaanse opsomming vir ‘n vollediger artikel in Engels uit dieselfde skrywer se pen, en kan gelees word by http://hermantoerien.posterous.com/gold-price-shadows-platinum )

Op die oomblik boer die goudprys amper $200 per fyn ons hoër as die prys van platinum. Met die ter perse gaan het goud teen $1 624 per fyn ons verhandel, en platinum teen $1 438. Baie onlangs nog het kenners voorspel dat goud, tradisioneel laer as platinum, die gaping met platinum sou vernou, maar so ‘n totale ommekeer in prys is nie wyd voorsien nie.
Die rede vir die hoër goudprys – dit het onlangs vlugtig ‘n draai bo $1 900 gaan maak – is beleggingverskansing teen die resessie. Platinum, met ‘n groter nywerheidsaanwending, is in ‘n resessie in die teenoorgestelde rigting onder druk.
Tog het platinum aanvanklik, na goud neus voor gekry het, die goudprys gejaag. Die redes hiervoor is effens meer kompleks.
Indien die situasie met die resessie van 1990 vergelyk word, en die inval in Iran, is die verloop baie soortgelyk. Dié keer het Navo se aandeel in die Libiese opstand, maar die Arabiese domino-revolusie in die algemeen, die platinumprys saam met die goudprys opgejaag. Na Ghaddafi se neerlaag onafwendbaar geword het, en olieproduksie hervat is, het die opwaartse druk op die platinumprys afgeneem, en het goud los voor begin trek.
Platinum en platinum-groep metale het egter ook ‘n ingeboude prysmeganisme wat verband hou met Suid-Afrika se oorheersing van die produksie. Verlede jaar het Suid-Afrikaanse myne 78 % van die wêreld se platinum, 35 % van die wêreld se palladium en 86 % van die wêreld se rodium gelewer. Volgens die hoof van Stillwater, mnr. Frank McAllistar, sou ‘n platinumprys van $1 276 in Januarie vanjaar baie platinummyne in Suid-Afrika in gevaar stel. Sedertdien het verskeie kostefaktore soos elektrisiteit en lone skerp gestyg, maar die rand het verswak wat ‘n mate van verligting bied.
Die vooruitsig dat ‘n verlaagde Suid-Afrikaanse produksie die wêreldprys sal opjaag, is ‘n goeie motivering om die prys eerder vir Suid-Afrikaanse myne lonend te hou.
Juweliers het gou ook probeer munt slaan deur die duurder goud as rede vir belegging in platinum – wat toe as “winskopie” aangebied is – aangemoedig het. Een groot juwelier in die VSA het hierna sy platinumverkope met 25 % verhoog.
Herman Toerien