Subscribe by Email

Goosen-besering ramp vir Cheetahs

Die opskrif vir hierdie berig was klaar uitgedink: “Nou, operasie Haaivang.”

En hartverskeurend ruk die Cheetahs weer ‘n neerlaag uit die kake van ‘n oorwinning. Die Highlanders het op die Vrystaatstadion deurgeskraap.

Kort na rustyd het sake nog goed gelyk. Dat die Cheetahs 30 – 9 voor was, was nie al regmerkie nie. Die Cheetahs het reeds drie drieë teen geen gedruk, en was kort daarna ongelukkig om nie ‘n vierde te kry nie. Die Highlanders het probeer doen wat hulle so goed kan doen – deur met veral hul agterspelers die bal te dra, maar het die bottervingers iets ysliks ingespan. In ‘n stadium het hulle met 13 man gespeel…

Maar die tekens was reeds daar dat die Cheetahs kan teenspoed kry. Voor die wedstryd het afrigter Naka Drotské aan die media gesê doellose skoppe is uit, maar dié boodskap het die spelers klaarblyklik nie bereik nie. Maar selfs hier is die Cheetahs tot rustyd nog deur die spring en die vlug van die bal bevoordeel.

En toe is Johan Goosen beseer. Sias Ebersohn het sonder sy skopstewels op die veld gedraf, en drie skoppe, waarvan een ‘n sitter was, misgesool.

Maar tog is daar ‘n paar goeie lesse uit die wedstryd te leer, soos dat die Cheetahs enige span in die reeks kan klop, veral as hulle nie ook nog teen hulself verloor nie.

Die drie, of selfs vier punte wat die Cheetahs met hierdie onnodige neerlaag kwyt is, sou ‘n reuse verskil op die punteleer gemaak het. In plaas van 22 punte, sou die Cheetahs 25 punte gehad het, net soveel soos die Waratahs, die Reds en die Hurricanes – groot name in die Super-reeks. Die Haaie sou net twee punte meer gehad het, en die Cheetahs en Haaie, wat nog twee keer teen mekaar moet speel, sou mekaar op die punteleer kon karnuffel.

En om bo die Haaie op die punteleer te kom is uiters belangrik, want dit sal dit vir SARU onmoontlik maak om die Cheethas uit die Super 15 te relegeer, terwyl die Haaie se posie in ieder geval verskans is.

Maar as is verbrande rugbyballe.

Maar nou is die Cheetahs se grootste taak vir die oomblik om nie weer teen die Force te glip nie. Die Force is wel op die punteleer effe swakker as die Cheetahs daaraan toe, maar ook maar net. Baie hang af hoe die Cheetahs die wedstryd nie net op die veld nie, maar in hul koppe speel.

Herman Toerien