Subscribe by Email

Godsdiens as wapen van twis

In die jongste uitgawe van die e-Hervormer plaas dr. Daan van Wyk (senior) die vraag aan die bod: versoening of verharding? (Volledige artikel hieronder geplak). Dr. Van Wyk het dit in hoofsaak oor die impak van die Hervormde Kerk se sg “apartheidsbesluit” en die ontsettende geniepsigheid waarmee ‘n groot deel van die twis gevoer word.

Ongelukkig is die soort twis nie net beperk tussen Hervormer en Hervormer nie. Die woorde-vitrioel wat op die verskyning van die Trojaanse perd-boek gevolg het, herinner daaraan. In die GKSA is dolerende gemeentes oor sekere besluite wat die Doppers geneem het. Die twis geld ook dikwels tussen kerkverbande, byvoorbeeld tussen kerke met ‘n gereformeerde / reformistiese uitgangspunt, en charismatiese kerke met ‘n fundamentalistiese onderbou. Gelukkig manifesteer dit nie dikwels in formele woorde-oorloë tussen kerkverbvande nie, maar ongelukkig lidmate onderling wat mekaar met die teerkwas bydam.

In die finale instansie is daar die woorde-vitrioel wat gelowiges en ongelowiges teen mekaar inspan. Van die mense wat “namens” die Here die pen met ‘n teerkwas vervang herinner sterk aan ‘n eietydse inkwisisie. Hulle herinner eerder aan mense wat die ongelowiges van die Christendom wegstoot, as wat hulle as ligdraers optree wat die verlore skip of skaap na veiligheid sal lei.

Die onverdraagsaamheid kan ook sielkundig en sosiologies betreklik maklik verklaar word: Dit is gewoonlik mense wat hulle in ‘n omgewing bevind waar ‘n groot premie op die “gevoel” van geredde geloof geplaas word. Maar in die binneste brand ‘n vlammetjie van onsekerheid, en ongelukkig is dit ook iets waaraan ‘n mens min meer kan doen as om te bid dat daardie ongemak moet verdwyn. Onwillekeurig word die knaende stemmetjie in die praktyk besweer deur die kwessie te verplaas – bevind jou op die voorpunt van diegene wat die “gebrek” in die ander se geloof identifiseer, aanspreek en bestraf. Teksverse word buite verband geruk om dit te regverdig, nuanses word verskuif soos om naakte veroordeling – dit wat die mense en selfs die voorbeeldigste Christen nie toekom nie – met die woordjie vermaning te verdoesel.

Hoewel die veroordelende aard van die Amerikaanse fundamentalistise beweging in die literatuur aangedui word as die vernaamste rede hoekom vorige manifestasies hiervan in die stof gebyt het, en die huidige, gebaseer rondom ‘n deel van die suidelike Baptiste-groepering van dieselfde eienskappe openbaar, is dit lank nie tot fundamentalisme beperk nie.

Laster, leuens, bedrog, halwe waarhede, verdraaiings en soortgelyk word mildelik ingespan, met van die mees prominente manifestasies wat hulle by uitstek daaraan skuldig maak.

Hoewel ons moeilik ons eie aandeel herken, en nog moeiliker erken, het die Christen en nie-Christen min of meer ewe min moeite om die regte Christelike weg te herken. Hou maar die gelykenis van die barmhartige Samaritaan aan Christene en nie-Christene voor en vra dieselfde vraag: Wie is my naaste? Net die moedswillige sal ‘n antwoord verskaf anders as dat dit die Samaritaan is.

Tog: Na die suksesse van die Makkabeërs in die tydperk tussen die ou en nuwe Testamente het die Jode ‘n landstreek bewoon wat ver buite die tradisionele woongebiede van die oorspronklike stamme van Juda was. Onder die uitgebreide gebiede was ook Galilea waar Jesus grootgeword het. Vir die Jood uit die noorde om na Jerusalem te reis, moes hy of deur die Samaritaanse gebied reis, bewoon deur mense wat deur die Jode verafsku is. Of hy moes deur die wildernis van Paran aan die anderkant van die Jordaan reis.

Trouens, die Romeine het die Samaritaanse gebied en die Griekse Dekapolis staatkundig benut om twee Joodse konsentrasiegebiede van mekaar fisies te skei om ‘n sterk Joodse opstand te probeer neutraliseer. ‘n Reisende Jood wat in hierdie buffergebied deur rowers oorval is, het allermins hulp van die veragtelike Samaritane verwag. Jesus het minstens soms deur Samaria gereis, en die Samaritane tot die ontsteltenis van sy dissipels menswaardig behandel.

Die foefies om by liefde vir die naaste verby te kom, is iets ysliks. Die mees algemene is ‘n teruggryp na die pre-Jesusgedagte dat “naaste” niks verder strek as die eie groep nie. Die Kainskinders, die Kussiete en ander word uitgesluit van naasteliefde, en ironies, dikwels ook die Jode wat as iets anders as die Judeërs beskou word. Die lyne word verbeeldingryk maar eksak getrek, die veroordeling absoluut.

‘n Meer gesofistikeerde poging, vanuit die geledere van die “creation cience” maar nie noodwendig verteenwoordigend daarvan nie, is ‘n vertolking van die uitsluiting van hulle wat in die waarheid is op grond van 1 Kor. 13: 6. 1 Kor. 13 is die pragtige stuk oor die liefde, en dit is, selfs in die konteks waarin die betrokke hoofstuk in 1 Kor opgeneem is, moeilik om enigiets van uitsluiting daarin te lees. En verskoon asseblief dat ek nou self vitrioel inspan: vers agt plaas dit dadelik in konteks: Liefde sal nooit verdwyn nie, wel onder meer kennis (die waarheid en die onware kennis). Paulus verwys immers na dié twiste as die maniere van ‘n kind, waar die (geestelike) volwassene hom van weerhou. Om nou die “creation science” met die waarheid in vers 6 gelyk te stel, en dat mense wat dit nie glo nie uitgesluit word van liefde, is nie baie volwasse nie.

Of ‘n mens met dr. Van Wyk saamstem oor hoe onverbreeklik kerklike eenheid (die aarde manifestasie daarvan) moet wees of nie, ‘n mens het deernis met die geskiedkundige sentimente van diegene binne ‘n kleiner kerkverband waarvan die lidmate dikwels “geboelie” is. Tog het selfs die wyse Salomo geskryf die skoonheid van die mooiste vrou wat nie diskresie (in Hebreeus intellektuele diskresie of morele oordeel) toepas nie is soos die ring in die neus van ‘n vark.

Salomo skryf ook dis beter om in die woestyn te woon as om ‘n huis met ‘n twisgierige vrou te deel.

Die kerk is die bruid van Christus, en ons kan immers nie verwag dat Christus in Sy skik moet wees met ‘n bruid wat in bykans elke opsig aan Hom ongehoorsaam is nie; ‘n kerk van lidmate wat nie die goeie vrugte dra nie, wat enigiets sal doen om van die naastelifede-verwagting te ontsnap.

En as Christene so in mekaar ‘n weersin aan die dag lê: hoe verwag Christene moet nie-Christene daarop reageer?

Pas skryf die nuusbrief van die Christian Coalition of America oor sy ongelukkigheid dat Christene uitgesonder word wanneer daar internetsensuur toegepas word. Met die eerste oogopslag val dit vreemd op: die internet is juis beskou as die bevryder van politiek-korrekte selftoegepaste sensuur. Meer alternatiewe, en selfs die allerverskriklikste stemme word op die internet gelees, in so ‘n mate dat die vraag al meer in lande met omvangryke persvryheid gevra word of daardie vryheid dan nie brieke moet hê nie.

En dan word “die Christene” uitgesonder vir internetsensuur?

By nadere betragting blyk dit dat dit twee onbuigsame standpunte van ‘n taamlike radikale opvatting oor homoseksualiteit en (gay) huwelike is wat deur die diensverskaffer verwyder is.

Sonder dat die oorspronklike artikels gelees is, kan nie geoordeel word of dit dalk suiwer haatspraak was wat as ‘n Christelike opvatting opgedis was nie.

Hier te lande gebeur dit egter ongelukkig net te dikwels dat iemand die houding van ‘n super Christen aanneem, en ‘n harde oordeel oor die Christenskap van ‘n ander uitspreek. Heeltemal te dikwels wil die een die ander se Christelike oortuigings en Bybelvertolking glad nie as versoenbaar met ‘n Christelike opvatting aanvaar nie. ‘n Aantal jare gelede skryf iemand in Volksblad ‘n brief met die volgende sin daarin: “Soos ons weet glo Christene dat die aarde omtrent 6 000 jaar oud is…”

Vir my was dit nuus – ek het nie eens geweet daar bestaan so ‘n beweging nie. Ek het my standpunt, soos in Admissie geleer, probeer stel (Psalm 90 en 3 Petrus 3 oa), en sedertdien is die sluise van vitrioel teen my oopgetrek: op die einste internet.

Vanselfsprekend is my sentimente oor die voorkoming van kerkskeuring – die aardse manifestasies daarvan – nie heeltemal dieselfde as dié van dr. Van Wyk nie. ‘n Wingerd word immers gesnoei sodat die plant gesonder kan groei.

Dit is die kerk van die Here, die bruid van Christus, wat suiwer en gehoorsaam gehou moet word. As die kerk in die harte begin skade lei weens pogings om verdeeldheid te koester, terwyl moedswil dikwels die grondoorsaak is, en die beginselsaak net ‘n strooipop, dan moet herbesin word oor die “ten alle koste.” In ware reformatoriese tradisie moet die vraag weer gevra word: Wat wil die Here? Nie: “Die Here moet by my sentimente inval nie.”

Dit beteken natuurlik nie dat die ekstra myl nie eers geloop moet word nie. Die ware teokraat sal eers seker maak dat wat so ‘n saak betref, die Here reeds self Sy besluit geneem het.

Hoe weet ons wanneer die Here reeds die besluit geneem het? In Matt 18 word die kinders as die belangrikste genoem – dat ons moet waak daarteen dat wat ons doen nie vir die geringstes ‘n struikelblok word nie. Op die gevaar af om gelykenisbedoelings met die werklikheid buite konteks op te klits: Watter kerk (aardse manifestasie) skep ons vir die kinders, die brose, as die kerk in homself verdeeld en vol twis is?

Gaan ons ophou ongelukkig wees en ophou twis as die “ander kant” se siening uiteindelik hierdie aardse geveg wen, byvoorbeeld in die howe?

Gaan ons ‘n kerk word wat gewoond geraak het daaraan dat ‘n rits gemeentes dolerend is, en maar net leer om daarmee saam te leef – ook maar ‘n situasie gewoond raak waar die ontevredenes later selfs hul eie kerklike publikasies saamstel en in die kerk versprei?

Hoe lank neem dit vir so ‘n kerk om daaraan gewoond te raak en weer as Ligdraer, as sendingpos in ‘n soekende wêreld te dien?

Ons bly by Matt. 18. Weer eens op die gevaar af om buite konteks te raak: Wanneer die ontevredenes dan deur die kerk, deur al die getuies, duidelik uitgewys is hulle het fouteer, wat sê Jesus self?: As hy dan steeds nie luister nie, moet hy soos heiden of tollenaar (korrupte) beskou word en mag nie met hom geassosieer word nie. Dit beteken natuurlik nie die finale woord nie – wanneer hy kom vergifnis vra moet hy vergewe word.

Daar moet nie van die kwaad boekgehou word nie.

Die komende AKV het ‘n groot verantwoordelikheid op hom. Die “geheim” is nie om wat ons dink die regte besluit is te neem nie maar die Here se Wil te doen, en bereid te wees om dit te doen al is dit iets waarteen ons menslike instinkte in opstand wil kom.

Versoening of verharding?

Wat hier volg, is nie ’n strydskrif, ’n aanval op of ’n verdediging van enigiemand nie. Dit is gerig tot almal in die Kerk om ’n keer op te hou vinger wys na ander en liewer eerlike selfondersoek te doen. Dit wil ook ’n gebed verwoord: Here, ontferm U tog oor ons! Dit is ook ’n kreet, ’n roep tot almal: Kom tog om Christus ontwil met God maar ook met mekaar tot versoening solank daar nog geleentheid is.

Maar dit verwoord ook ’n vraag aan myself, onsself: Ken jy die liefde van God? Dié liefde wat gee, vergewe, selfverloënend is, offer tot in die dood? Nie liefde wat eis: jy moet, jy moet nou mooi luister na wat ek sê, jy moet luister na die Woord.

Dit is mos moontlik dat die liefde en genade van God só kan triomfeer dat die kwaad wat in ons midde ingesluip het van weerskante af onvoorwaardelik en finaal gestaak word. Intussen bid en wag ’n breë laag lidmate om met hulle werk in die kerk van Christus te kan voortgaan.

Daar word gesê die saak moet nou tot op die been oopgekloof word. Dit is gedoen. Wat in die snyproses blootgelê is, lyk nie mooi nie. Ouderlinge en lidmate spreek hulle skok en teleurstelling uit oor die taal en die trant waarin predikante en teoloë met mekaar praat, in sowel die beswaarskrif as in sommige van die reaksies daarop: my siening is reg en waar, die ander is misleidend, vals, verdraaiings. En ons staan kaal voor ’n heidense wêreld en straks voor wêreldlike regters.

Daar word graag gesê dat skeuring dalk suiwerend kan werk. Dit sál nie, na watter kant toe dit ook al gebeur. Verskeuring van sy liggaam is nie die weg wat Christus geleer het nie. Ons wil dan juis saam met die ekumene werk vir behoud en herstel van dié liggaam. Skeuring kan nie suiwerend werk nie. Dalk is dit eerder straf van God oor skade wat ons in sy kerk aanrig. Moet ons nie almal ons optredes teen dié lig weeg nie?

Daar word ook gesê dat versoening nie die kwaad moet toesmeer nie. Dit sál nie. Die Bybel sê immers die liefde sal baie sondes bedek.

Die veroordeling van ’n politieke beleid met as konsekwensie die toetrede tot ’n ekumeniese liggaam? Hoe ernstig klink dit teen die lig van die dringendheid waarin die Bybel praat oor die ewigheid en die koninkryk wat kom? As dieselfde gloed en hartstog waarmee dié saak oor jare gedryf is en ook die hewige reaksies nou op die aanvaarding daarvan tog maar die Kerk se prediking, apostolaat en liefdevolle optrede teenoor mekaar kon kenmerk …

Wat werklik op die spel is, is dat ons die vermoë om volgens Bybels-etiese norme te leef en van mekaar te verskil, verloor het; nie net op sinodale vlak nie maar oor die breë spektrum van die Kerk se lewe en werk; tot op ringsvlak en in die werk in komitees tussen predikante van die Kerk. ’n Siek tydgees kerf al lankal in ons verhoudings as gelowiges in. Is dit die beeld wat ons in die wêreld wil bly vertoon? Wil ons aanhou toelaat dat daar só kwaad gepraat word van die goeie wat aan ons behoort? Intussen preek ons liefde en bedien en gebruik saam Nagmaal?

In die lewe van gelowiges gaan dit nie om watter kant gaan wen of wie gaan oor wie kraai nie. Wat op die spel is, is versoening. Daarsonder kan ons nie kerk van Christus wees nie.

Ons moet ophou, omdraai, tot God bekeer. Hy sal harte vol berou en ootmoed nie gering ag nie. Dan is die heel onmoontlike moontlik: gesondword, heelheid, saam verder. Die alternatief is verharding … met gevolge te huiweringwekkend om aan te dink, vir nou en ook vir die ewigheid.

Dr Daan van Wyk (sr)

Herman Toerien