Subscribe by Email

God-in-Aksiefees vir Kirkwood beplan

Kirkwood, ‘n dorp in die vrugbare Sondagsriviervallei naby Port Elizabeth, se kerke snoer kragte saam vir die God-in-Aksie-fees wat in September hier gehou gaan word.

Volgens me Yolande Potgieter het die idee vir die Christusgesentreerde fees by ‘n paar van die dorp se NG kerk-vroue ontstaan, maar het hulle besef dat dit slegs ware impak sal hê as die res van die dorp se kerke ook betrek word.  “Ons het die ander kerke genader en almal het dadelik ingestem en opgewonde geraak oor die vooruitsig.”

Potgieter vertel dat hulle graag die hele gesin by die fees wil betrek, en dat daar vier verskillende afdelings is om die uiteenlopende smake te bevredig.

Daar sal afsonderlike programme vir volwassenes, tieners, leerders van graad 4 tot 6 en drie- tot agtjariges wees.

Volwassenes sal onder meer ‘n huweliksbespreking deur me Elsabé Aldrich kan bywoon, sowel as interessante praatjies deur di Elza Meyer en Riekert Botha.

Aldrich sal ook ‘n draai by die tieners maak, wat verder kan uitsien na vertonings deur Xcross Beat en Rizen.  Kidz4Christ gaan die ouer kinders vermaak, terwyl die heel kleintjies in ‘n veilige gebied aan hul program gaan deelneem.

Louis Brittz sal die hele naweek se lofprysing en aanbidding lei.

Verder sal daar ook hope stalletjies wees wat kos en ander interessanthede aanbied, en verrigtinge sal Sondag met ‘n nagmaaldiens afgesluit word.

Volgens Potgieter hoop hulle om sowat 10 000 mense te lok en gaan hulle die koste so laag as moontlik probeer hou.

Op die oomblik is hulle van plan om volwassenes se kaartjies teen R20 per dag aan te bied, en kinders (3 tot 18 jaar) R10 per dag.

Die God-in-Aksie-fees vind van 24-26 September by die Hoërskool Kirkwood plaas.  Vir enige inligting kontak Yolanda Potgieter by 042 230 0753 of giakirkwood@gmail.com.