Subscribe by Email

Ghaddafi: Wat skuil agter verskeie lande se gevurkte tong-uitsprake?

In die internasionale politiek geld ‘n reël: ‘n Land het nie vriende nie, net belange.
Op die laerskool se speelterrein geld nog ‘n beginsel: My vyand se vriend is my vyand.
En dan is daar Ghaddafi se Libië.
Toe Westerse bomme val om die VN Veiligheidsraad se vliegverbod-sone oor Libië af te dwing, het ‘n klomp lande wat dit aanvanklik gesteun het of buite stemming gebly het, skielik objeksies.
Hul verweer is dat die aanvalle verder gegaan het as dit wat hulle goedgekeur het. Maar dis natuurlik louter snert. Selfs die mees onontwikkelde land sal ‘n adviesstelsel aan die regeringsleiers hê wat hulle sou adviseer oor wat so ‘n vlugverbod-some behels.
Geen land sal immers sy peperduur vliegtuie en kosbare vegloodse aan die VN beskikbaar stel om die lugruim van ‘n land te patrolleer as daar ‘n voortdurende stroom lugafweervuur plaasvind nie. Om te keer dat die internasionale mag se vliegtuie onder skoot kom moet ‘n groot verskeidenheid installasies eers vernietig word.
Die mees opvallende is uiteraard lugafweerstellings. Voeg hierby die radarstelsels wat die lugafweer op vyandelike vliegtuie moet rig.
Dan volg ‘n groot verskeidenheid gevare wat uitgeskakel moet word – van tenks en gemobiliseerde veldartillerie wat ook ‘n verskeidenheid lugafweerstelsels het, al is dit kragtige masjiengewere wat hul swaar koeëls redelik verspreid die lug instuur sodat iets die aanvallende vliegtuig moet tref.
Selfs voetsoldate kan seker missiele dra wat ‘n redelike gevaar vir vegvliegtuie inhou.
Die lugmag self sal uiteraard ‘n teiken wees. Die ideaal is om die lugmag van die vyand te verwoes voor dit nog in die lug kom, en in luggevegte betrokke kan raak. Wie sal vergeet hoe Israel by geleentheid die Egiptiese lugmag in ‘n verrassingsaanval op die grond uitgeskakel het?
Eers hierna raak dit ‘n effense grys area. Van die vliegtuie wat die geen-vlugsone afdwing, kan onklaar raak of met ‘n frats afgeskiet word, en die deelnemende lande sal nie graag wil sien dat hul vlugbemanning in vyandelike hande beland nie, onder meer om te keer dat hul mense op ‘n manier gyselaar gehou of as menslike skilde gebruik word nie. Dit, weer, sal bepaal word deur presies wie die vyand is teen wie opgetree word. En selfs Ghaddafi se mees stoere ondersteuners sal toegee dat dié man nie altyd rasioneel of matig optree nie.
Of militêre bevelstrukture aangeval sal word, word ook deur die noodsaak daarvan bepaal. En ja, iemand kan nie homself ‘n kolonel noem, en as opperbevelvoerder van sy land se magte wil staan, en dan meen hy self is ‘n burgerlike teiken wat nie aangeval behoort te word nie.
Nee, daar is ander redes hoekom die Arabiese Bond en ander lande en groeperings skielik beswaard is. Dit wissel van bloot tuis nie te veel in die spervuur te staan nie deur maar die gevurkte tong in te span – en so almal min of meer tevrede te stel. Onthou, terwyl Ghaddafi se magte op hul baadjie kry, het verskeie lidlande van die Arabiese Bond ook te kampe met opstande. Met Sirië., Jemen en Bahrein s’n nou seker die prominentste. In ‘n omgewing waar die demokrasie maar vreemderig is, sal regeringsleiers nie te veel die gedagte wil slyp dat hul ontevrede bevolkings dalk ook grootskaalse moleste kan maak, en van onderdrukking gevrywaar kan word deur die VN wat ook oor hul lande ‘n vliegspergebied afkondig nie.
Maar hulle wil darem bitter graag ook van Ghaddafi ontslae raak.
En ja, dis ook nie bo alle twyfel seker Ghaddafi gaan die onderspit delf nie, en ‘n man wat glo passasiersvliegtuie in die lug laat ontplof het, is dalk ‘n veiliger vriend as vyand.
Gelukkig vir die Arabiese lande is Ghaddafi en sy ondersteuners baie verbaal in hul haat teenoor Osama bin Laden se Al Kaida. Dit verseker dat Osama minstens nie vir hulle kwater sal wees as nou omdat hulle Ghaddafi op die baadjie gee nie.
Ook Afrikaleiers, veral die despote, sal nie graag te veel gedagtes in hul lande se bevolkings se koppe wil laat posvat nie.
Dan is daar natuurlik die (mooiweers-)vriende. Amper voorspelbaar is hulle Hugo Chaves van Venezuela, Fidel Castro van Kuba (is hy dan nie veronderstel om al van die toneel te wees nie?), Daniel Ortega van Nicaragua en Evo Morales van Bolivia. Hoewel dié vriende min of meer sosialisme as filosofie deel, is hul grootste raakvlak met Ghaddafi so min of meer ‘n afwesigheid van rasionaliteit.
In ‘n omgewing waar ‘n dolk deur die hart so kenmerkend soos demokrasie in die weste is, moet westerse waarnemers hulle nie te veel verknies dat verskeie rolspelers inkonsekwent optree nie. Heimlik is feitlik almal haastig dat Ghaddafi as faktor uitgeskakel word. ‘n Post-Ghadafi-era sal steeds kompleks genoeg wees.
Herman Toerien