Subscribe by Email

Ghaddafi se bloutjie by die Arabiese Bond

Hoe het dit gekom dat die Arabiese Bond, juis nou, die rug so finaal op kol. Muammar Ghaddafi gedraai het? Stimuleer hierdie optrede nie juis die verdere domino-impak van die Arabiese revolusie in lande soos Sirië, Bahrein en Jemen nie?
Of is Ghaddafi te anders – te eiesoortig? Het hy ‘n verleentheid vir te veel Arabiere – te veel Moslems geword? En hiermee is die Arabiese skrif vir hom aan die muur.
As dit oor Ghaddafi gaan, is enigiets moontlik. Sy meer as 40 jaar aan bewind word gekenmerk deur tekens van grootheidswaan, nederigheid, rasionaliteit, maar veel meer irrasionaliteit. Niemand kon ooit mooi weet waar hulle met die man staan nie.
Is dit dalk moontlik dat die Arabiere gevoel het hulle het genoeg gehad van ‘n Berber?
Met die Arabiese verowerings van Noord-Afrika is wel taamlik suksesvol daarin geslaag om die lande te Arabiriseer en tot die Islam te bekeer. Sekere Berberstamme, soos die Toaregs wat groot dele van Noord-Afrika bewoon, het egter hul identiteit en self onafhanklikheidsstrwese behou. Hoewel ook Moslems, behou hulle heelwat eie kulturele gebruike, soos dat die mans, eerder as die vroue, hul gesigte verberg.
Sommige stamme het egter sterk verarabies. Een hiervan is die klein Qaddadfa-stam waaruit Ghaddafi gebore is. Trouens, Ghaddafi is in ‘n Beduïne-tent gebore en gaan steeds graag op reis met sy luukse tent – iets wat sy verbintenis met die mees “tipiese” of geromantiseerde Arabiese groepe uitbeeld, maar waarmee verskeie Berberstamme weens die gemeenskaplike woestynherkoms, ook vele raakvlakke het.
Onder Ghaddafi se bewind is Libië as Arabiese staat bestendig – minstens in naam, soos dat dit die Libiese Arabiese Yamahariya (eerder publiek as republiek) sou heet. As olieproduserende land is Libië ook deel van Opul (Opec) wat ook tot ‘n groot mate deur die Arabiese wêreld oorheers word.
Ghaddafi se “afvalligheid” van die Pan-Arabiese ideaal is miskien grootliks te merke in sy ideaal van ‘n verenigde State van Afrika, iets wat hy al by geleentheid ryp probeer druk het. Die AU veel meer verdraagsaam jeens Libië as die Arabiese Bond. Libië het miljarde oliedollars in Afrika belê.
Hy het in ‘n stadium hoopvolle blikke van die sosialistiese wêreld gekry toe hy met sosialisme begin flankeer, maar dit het gou geblyk ook hierin is hy eiesoortig, en het formeel anti-kommunistiese gebly.
Sonder olie, en daarby ‘n baie goeie kwaliteit ligte olie wat maklik en goedkoop geraffineer kon word, sou Ghaddafi waarskynlik nooit vriende, nie eens mooiweersvriende, gehad het nie.
Met die skrywe van hierdie stuk het die eerste berigte die media begin haal dat Westerse vegvliegtuie oor Libiese lugruim doenig is. Die vraag wat westerse koerante al ‘n paar dae lank vra – of die vliegverbod oor Libië te laat gekom het om die land van hierdie vreemde karakter te bevry, is nog nie beantwoord nie. Omtrent al wat taamlik duidelik is, is dat Libië sy selfverklaarde “wapenstilstand” probeer gebruik het om die weste te laat voete sleep terwyl hy gou ‘n laaste poging aanwend om sy oorwinning oor die opstandelinge onomkeerbaar te maak.
Die weste, en die wêreld, staan nou voor ‘n groot toets. Word die vlugverbod nie deur bietjie meer knypwerk ondersteun nie, en val Ghaddafi nie, gaan bitter baie mense waarskynlik ‘n afgryslike lot te beurt val. Ghaddafi is al tevore daarvan beskuldig dat hy politieke opponente – ook nie eens noodwendig van Libië self nie – gewoon laat verdwyn het. Sy lojaliste se optrede teen burgerlikes het baie geskok – maar as dit werklik die rede vir die vasvat was, sou verskeie ander Arabiese ystermanne wat nou ook maar rof met opstandige burgers werk, ook ‘n ystergreep te beurt geval het.
Maar so werk die internasionale politiek nou nie. – Herman Toerien