Subscribe by Email

Gewigtige en getande sake in Amerika…

Die Amerikaanse staat Mississippi het die vetste mense, en Arizona het die meeste haaie gehad.

Nie net het Mississippi persentasiegewys die meeste vet mense in die VSA nie, die persentasie mense wat as “tegnies vet” beskou word, het in 20 jaar meer as verdubbel – van 15 % in 1991 tot 35 % nou.

Benewens die lekker kossies kry kulturele opvattings ook die skuld vir dié mense se stywe gordels.

Nog vreemder nuus uit die VSA is egter dat die droë Arizona, eens ‘n paradys vir haaie was. Sowat 270 miljoen jaar gelede, voor die dinosourusse verskyn het, was daar ‘n binnelandse see in Arizona. Hoewel baie uiteenlopende haaispesies met opgrawings geïdentifiseer is, het ‘n wetenskaplike nou eers drie spesies in ‘n wetenskaplike artikel in Historical Biology beskryf.

Die kleinste soort het ongeveer ‘n meter lank geword, ‘n ander sowat 2 meter lank, en die grote was ‘n bielie van langer as 6 meter.

Die wetenskaplikes meen veral die groter spesies het intensief jag op ander haaie gemaak.

Die groot verskeidenheid spesies word toegeskryf daaraan dat haaie destyds ook die “nismark” vervul het van wat ander vissoorte en selfs soogdiere soos dolfyne vandag vervul.

Foto: Dié haaitand het aan die spesie Kaibabvenator swiftai behoort wat langer as ses meter geword het.

Herman Toerien