Subscribe by Email

Gesprek met Kongolese President oor SA boere

“Binne ’n baie kort tydjie het die Suid-Afrikaanse boere in die Republiek van die Kongo reeds indruk op die president van die Kongo en die minister van Landbou gemaak,” sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus en adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye.

Dr. Mulder het tydens sy besoek verlede week aan die Kongo gesprekke gevoer met die president van die Kongo, mnr. Denis Sassou Nguesso, asook met die minister van Landbou, mnr. Rigobert Maboundou. Die gesprekke het onder andere gehandel oor die posisie en toekoms van die Suid-Afrikaanse boere in die Kongo. Albei leiers het met groot lof gepraat van wat die Suid-Afrikaanse boere binne enkele maande reeds in die Kongo reggekry het.

Die boere het hulle gevestig op ’n staatsplaas van 85 000 ha in die Niari-vallei. Binne enkele maande het die boere 1 200 ha ontbos en met mielies beplant. Hulle het die waterpompe en pype na die grond herstel met die gevolg dat die plaaslike bevolking nou ook kraanwater het. Waar die plaaslike bakker maar enkele brode ’n week verkoop het, bak hy nou 200 brode per dag as gevolg van die nuwe werkgeleenthede en geld vir die plaaslike gemeenskap. Die Kongolese minister van Landbou het ’n video van die boere se suksesse gemaak ten einde dit aan die president te vertoon. Die projek is ook as ’n presidensiële projek verklaar.

Dit is met gemengde gevoelens dat ’n mens luister na die waardering wat die plaaslike politici vir die Suid-Afrikaanse boere se kundigheid en hardwerkendheid het. Eers wanneer leiers en die bevolking van Suid-Afrika die waarde van hierdie boere begin besef, sal ons die Suid-Afrikaanse verlies aan sulke boere en aan landboukundigheid kan omdraai, volgens dr. Mulder.