Subscribe by Email

Gemeenskappe aangemoedig om interdik onder plaaslike polisie se aandag te bring

AfriForum het ʼn beroep op skole en hospitale gedoen om die interdik wat AfriForum Vrydag in die Noord-Gautengse Hooggeregshof bekom het – wat oproerige stakers verbied om skole en hospitale te betree en leerders, pasiënte en nie-stakende personeel te intimideer – so gou moontlik onder hulle plaaslike polisie se aandag te bring.

Dit sal volgens AfriForum help dat die polisie gereed kan wees om vinnig op te tree, sou die interdik oortree word.  Die interdik is beskikbaar by www.afriforum.co.za.  AfriForum het ook reeds dié interdik aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se regsafdeling oorhandig.

Ondertussen het die SAOU in ‘n mediaverklaring negatief gereageer op die AfriForum interdik.

Volgens AfriForum is die interdik nie gemik teen nie-stakende staatsamptenare en diegene wat vreedsaam wil staak nie, maar spesifiek teen diegene wat hulle kollegas, leerders en lede van die publiek intimideer en gewelddadig optree.  AfriForum kan nie toelaat dat leerders, siekes en nie-stakende werknemers die slagoffers van die stryd tussen die regering en stakende werknemers word nie.

AfriForum het ook ʼn beroep op lede van die publiek gedoen om hulle hulp as vrywilligers aan te bied by hospitale waar siekes onder die staking ly.

AfriForum sal die situasie monitor en optree as die hofbevel oortree word.