Subscribe by Email

Geld bewillig vir boereveiligheid

“Die veiligheid van nagenoeg 720 boere en 6500 plaaswerkers in die Lephalale gebied het pas ‘n hupstoot gekry deur ‘n geldelike skenking van die Agri Securitas Trustfonds vir die oprigting van ‘n radio-kommunikasienetwerk. Terselfdertyd is radiotoerusting ook geskenk aan die Van Zylsrus landbouvereniging in die Noord-Kaap om hulle plaaslike polisie in staat te stel om met boere in die gebied te kan kommunikeer”, sê Japie Grobler, voorsitter van die Agri Securitas Trustfonds.

Die Landelike Beveiligingsplan vir die Lephalale gebied maak voorsiening vir ‘n Landelike Veiligheidsforum wat ‘n gesamentlike krisisbeheersentrum en operasionele sentrum op die been gebring het. Die werksaamhede van die forum in belang van die boerderygemeenskap word deur die plaaslike polisie ondersteun en die kommunikasienetwerk sal die werk van die polisie en nooddienste in die gebied aansienlik verbeter. Die netwerk sal die gemeenskap in staat stel om vinnig te reageer in noodsituasies soos plaasaanvalle, vee- en wilddiefstal en selfs renoster stropery. Die grootte van die gebied wat nagenoeg 19 000 km² beslaan noodsaak ‘n gemoderniseerde radiokommunikasienetwerk om onder andere lugondersteuning te aktiveer wanneer nodig.

Kommunikasie met die polisie in Van Zylsrus bly ‘n probleem aangesien die polisie nie oor die nodige radiotoerusting beskik om effektief met die boerderygemeenskap te kommunikeer nie. Goeie werksverhoudinge bestaan tussen die boerderygemeenskap en die polisie en daarom het die Trustfonds radio’s aan die landbouvereniging beskikbaar gestel vir aanwending deur die polisie om met boere te kan kommunikeer. Die gebied grens aan Botswana en veediefstal asook diefstal van koper kom gereeld voor.

Die Agri Securitas Trustfonds is vir die afgelope 5 jaar aktief betrokke by die finansiering van trauma werkswinkels wat deur Reformanda Beradingsdienste aan boeregemeenskappe verskaf word. Die sukses van die traumawerkswinkels is daarin geleë dat landbougemeenskappe wat nie altyd naby ondersteunende dienste is om hulle emosionele probleme aan te spreek nie, nou van die dienste van Reformanda gebruik kan maak. Die Trustfonds het pas sodanige werkswinkels wat in Leeudoringstad en Ermelo gehou is, finansieel ondersteun. Volgens Grobler kan gemeenskappe wat van die diens gebruik wil maak, met die onderskeie provinsiale organisasies van Agri SA skakel.

Ten slotte sê Grobler dat dit die strewe van die Agri Securitas Trustfonds van Agri SA is, om aanvullende finansiële hulpmiddele aan die landbougemeenskap beskikbaar te stel om landelike veiligheid te verbeter. Daar is reeds meer as 100 sodanige projekte landswyd deur die Fonds finansieel ondersteun in ‘n poging om landelike misdaad te bekamp en ‘n veiliger omgewing vir die boerderygemeenskap te skep.

2 Responses to Geld bewillig vir boereveiligheid

  1. Riaan

    Julie 11, 2011 at 2:16 pm

    Hi Hermien. Kyk gerus na hierdie briljante alternatief vir vuurwapens, en sommer ander goed wat mense ook wil gebruik, wat uitstekend vir self en huis verdediging aangewend kan word – defenceguns.co.za

    Tot 8 skote per sekonde, geen terugslag – geen lisensie benodig. Vat tussen 100 en 200 rondtes – geen nodigheid om te herlaai nie. Skiet ‘n mengsel van peperballe wat met capsicum 2 peper gelaai is asook soliede balle wat van nylon en glas gemaak is. Klink vir my na die antwoord. En soos jy se – daai paraatheid ding. Mense is GLAD nie meer paraat nie. Elkeen leef in sy eie klein wereldtjie en sien nie eers wat om hulle aangaan nie – misdadigers floreer op dit.

  2. Riaan

    Julie 11, 2011 at 11:47 am

    Dit begin al beter klink. Radio’s kan nuttig wees vir beter kommunikasie. Maar wat maak mense as misdadigers eers in hulle huise ingekom het? Want huisrowers en plaasaanvallers beplan hulle dinge deeglik – en as hulle wil inkom gaan hulle inkom. En selfs al roep jy op jou radio – as hulle jou nie verras nie – gaan dit ten beste ‘n paar minute neem vir hulp om op te daag. Dit is meer as genoeg om jou en jou gesin se lewens permanent te verander. Is mense voorbereid om daardie tydjie te oorleef? Of maak hulle maar staat op adrenalien, of die vuurwapen wat al maande in die kluis le om dan te help? Ek sou reken dit is uiters belangrik dat mense kyk na dinge soos behoorlike taktiese opleiding en goeie alternatiewe vir vuurwapens ook.