Subscribe by Email

Geheime van 30-jarige oorlog na 380 jaar opgediep

‘n Belangrike rede dat Protestantisme se posisie in Europa min of meer verskans is, was die toetrede in 1630 van koning Gustavus II Adolphus (Gustav II Adolf) van Swede aan die kant van die Lutherane in die teenswoordige Duitsland.
In daardie stadium het die oorlog sleg vir die Protestante verloop.
Gustav self is aan die einde van 1632 in ‘n veldslag oorlede, en dit is hierdie slagveld wat nou geheime van die oorlog begin ontvou.
Die oorlog het in 1618 begin toe Protestante in Praag Katolieke gesante van koning Ferdinand by ‘n venster uitgegooi het sodat hulle 21 meter ondertoe op ‘n hoop perdemis geval het.
Hoewel dit oor die algemeen as ‘n oorlog tussen Protestante en Katolieke bekend gestaan het, is dit veel meer kompleks. Politiek vanuit die Huis van Habsburg (Oostenryk en Spanje), Frankryk en Swede het net so ‘n groot rol gespeel. Van die redes moet sewe dekades vroeër gesoek word.
Met die Verdrag van Augsburg in 1555 wat ‘n einde aan die oorlog tussen Lutherse en Katolieke Duitsers gebring het, het die regeerders van 225 Duitse state onder meer die mag verkry dat alle onderdane dieselfde geloof as die regeerder moes aanneem. Van hierdie prinse het heen en weer tussen Lutheraan en Katoliek gewissel, en van diep oortuigings by die bevolkings om oorlog te voer oor godsdienspolitiek was daar min sprake. Boonop het Calvinisme ook vinnig na Duitsland versprei.
In hierdie oorlog het huursoldate ‘n baie groot rol gespeel, en historici meen dat baie soldate dan aan die een kant, dan aan die ander kant, geveg het. Boonop het Denemarke, wat aanvanklik aan die kant van die Protestante geveg het, later aan die kant van die Katolieke probeer toetree, maar is deur die Swede tot ‘n vredesooreenkoms gedwing.
Boonop het Frankryk, ‘n Rooms-Katolieke land, aan die kant van die Protestante toegetree – aanvanklik deur hoofsaaklik die huursoldateleërs van die Protestante se lone te help subsidieer, maar algaande meer regstreeks op die slagveld. Selfs die Turke het in ‘n stadium betrokke geraak en die Protestante gehelp, maar die Turke is later deur die Pole verslaan.
Vir Gustav het die einde by die slag van Lützen gekom. Hy was bewus daarvan dat die Katolieke leër onder aanvoering van Albrecht von Wallenstein (eintlik Albrecht Václav Eusebius z Valdštejna), hom ingewag het en voorbereid was. Die Sweedse koning het egter geen keuse gehad nie – Von Wallenstein was aan die opruk om die Swede se toevoerroetes af te sny.
Geskiedenisboeke beskryf die ongelooflike wreedhede wat in hierdie oorlog plaasgevind het, en hierdie slag sou nie minder wreed wees nie. Aan beide kante was ongeveer 20 000 man, en volgens Maik Reichel, hoof van ‘n nabygeleë museum, het na raming tussen 6 000 en 9 000 man omgekom. In ander veldslae van hierdie oorlog was die ongevalleverhouding van veral die verloorders hoër, maar in hierdie veldslag was dit nie so seer die oorwinning wat saak gemaak het nie, dit was ‘n geval van doodmaak of om doodgemaak te word. Haas enige denkbare wapens is ingespan, van voorlaaier-pistole en gewere tot swaarde, messe en langsteelbyle.
Hoewel sommige geskiedenisboeke meen die Sweeds-geleide leër, wat ook huursoldate uit Skotland, Engeland, Kroasië en Duitsland ingesluit het, het die beste daarvan afgekom, was die afloop minder beslissend. Dit het wel ‘n voorlopige agteruitgang in die Sweedse oorlogspoging ingelui, en in ‘n stadium was die Katolieke oorwinning in die oorlog min of meer ‘n voldonge feit.
Von Wallenstein se lot is ewe tekenend van die wantroue wat met die verwisseling van kante gepaard gegaan het.
Wallenstein was ‘n Tsjeg van Boheme en het sy dienste met ‘n leër van tussen 30 000 en 100 000 man aan die keiser aangebied. In 1630 is Wallenstein egter afgedank, maar hy is kort hierna weer nadergeroep toe die Protestante ‘n reeks oorwinnings begin behaal het.
In Februarie 1634, dus minder as twee jaar na die slag van Lützen, is hy in opdrag van keiser Ferdinand vermoor. Von Wallenstein het in daardie stadium glo samesprekings met die Protestante oorweeg omdat hy ontevrede was oor die behandeling wat hy van die keiser gekry het.
Baie van die onsekerhede oor die presiese herkoms van die soldate aan beide kante kan moontlik nou opgelos word, na ‘n massagraf onlangs op die terrein gevind is. Die onaangename taak om die dooies te begrawe het destyds op die inwoners van Lützen geval, omdat die leërs aanbeweeg het. Uit die opgrawings blyk dit dat dié grusame werk baie netjies gedoen is.
‘n Deel van die ou slagveld is nou bebou, en uiteindelik sal slegs sowat ‘n derde deur argeoloë ondersoek kan word. Maar met soveel ongevalle, is dit waarskynlik voldoende.
Geen klassieke argeologie word vir hierdie ondersoeke ingespan nie. Die grond wat die oorskot bevat, word in geheel uitgehaal en na die laboratoriums in Halle geneem. Hier word die bene op ‘n spesiale manier uit die grond gehaal, en dan ontleed. Die verwagting is dat navorsers van die Universiteit van Bristol uiteindelik die grootste deel van die ondersoek sal doen. Veral die strontium-isotope sal ondersoek word om te bepaal waar die soldaat hom oral in sy lewe bevind het. Die tande verklap weer heelwat oor iemand se kinderjare.
Dié oorlog het ‘n groot impak op die bevolking van die Duitse state gehad. Na raming het die ongevalle en siektes wat uitgebreek het die bevolking met tussen 25 en 40 % verminder. Sommige dele is swaarder as ander getref, en die bevolking van Würtenberg het na raming met ‘n driekwart afgeneem. Die Sweedse weermag alleen het na raming 2 000 kastele, 18 000 dorpies en 1 500 dorpe verwoes. Veral vroue en kinders in die dorpies was maklike teikens vir die plunderende huursoldate.
Herman Toerien