Subscribe by Email

Geen dissiplinêre optrede – Universiteit Stellenbosch

Die Universiteit Stellenbosch (US) het aangekondig dat daar nie dissiplinêr opgetree sal word teen die studente wat op ʼn foto met swart gesmeerde gesigte verskyn het nie, maar eerder die voorval vir “versoening” aanwend.

“Die universiteitsbestuur het Vrydag die ondersoekspan se aanbeveling aanvaar dat daar nie dissiplinêr teen Michael Weaver, Ross Bartlett en Mark Burman opgetree word nie,” het die US in ʼn verklaring gesê.

“Die drie studente  onderneem om op verskillende studenteforums aan verdere gesprekke deel te neem om te help om verhoudings te herstel nadat hul optrede tot afkeur en gekrenktheid gelei het”, het die US gesê.

Prof. Leopoldt van Huyssteen, waarnemende rektor en visekanselier van die US, het gesê die universiteit se bestuur beskou die voorval steeds in ’n baie ernstige lig. “Hoewel die ondersoek die studente se verklaring bevestig dat hulle die mondigwording van tweelingvriende in ’n restaurant in Kayamandi se toerisme-korridor bygewoon het, en dat hulle soos ander gaste ook volgens die ‘twinning’-tema aangetrek het, vereis ons land se geskiedenis en kwesbare verhoudings dat ons sensitief behoort te wees vir uitsprake, optrede en terminologie wat kan kwets en aanstoot gee,” het Van Huyssteen gesê.

Volgens hom was die gebeure van die afgelope week vir die betrokke studente en die kampusgemeenskap ’n waardevolle leerervaring. “Die voorval het die leierskap van ons pasverkose Studenteraad (SR) en Simonsberg se huiskomitee vroeg in hul termyne getoets.

University students

Ons studenteleierskapstrukture moet ons juis help om ’n verwelkomende kultuur op ons kampus te skep, en daarom was dit verblydend dat die SR en die huiskomitee sterk standpunt ingeneem het teen enige vorm van onsensitiewe optrede. Die US sal hierdie negatiewe voorval gebruik om oop gesprek ter wille van groter wedersydse begrip op ons kampusse aan te moedig.”

Bron SABC News