Subscribe by Email

Gee Cele trekpas en skommel kabinet – CDP

“Pres. Jacob Zuma het nou die ideale geleentheid om die polisiehoof Bheki Cele die trekpas te gee en sy kabinet te herskommel” aldus ds. Theunis Botha. leier van die Christen-Demokratiese Party (CDP). Hy het gereageer op die finale verslag van die Openbare Beskermer oor omstrede kantoor-kontrakte deur die SAPD.
“In ‘n normale demokrasie sou die kanse goed gewees het dat die president self sou bedank weens die swak oordeel wat hy met baantjie-vir-boeties-aanstellings gemaak het, en wat duidelik niks met meriete uit te make gehad het nie. Ons besef egter so iets is hier te veel gevra.
“Net te veel waarnemers verwys al na Suid-Afrika as land waar korrupsie endemies geword het, om gesond vir die land se toekoms te wees. Dit is hoog tyd dat die president en regering ophou om net lippediens aan die stryd teen korrupsie te toon, en dis nou tyd dat korrupsie – die berowing van die land van sy toekoms, nou met wortel en tak uitgeroei word.
“Die boodskap moet duidelik wees – daar is geen ruimte vir korrupsie nie – nie op die hoogste vlakke nie, en ook nie op die laagste nie.”
Nota: Die volledige verdoemende verslag, met ‘n uitvoerende opsomming, kan gelees word by:
http://www.pprotect.org/media_gallery/2011/SAPS%20Lease%20Durban%20Draft%20Version%201%205%20(2).pdf