Subscribe by Email

Gaan Turkye in Siriese burgeroorlog ingryp?

Sirië verkeer nou reeds in ‘n toestand van burgeroorlog, aldus die VN se hoof van vredesendings, Hervé Ladsous. Hy sê daar is groot dele van die land waar die Siriese regering effektief geen beheer oor uitvoer nie, en die wêreldgemeenskap het die omvang van die opstand onderskat.

Intussen lyk dit al hoe meer of Turkye in die konflik kan ingryp – meer as net ‘n tikkie ironie omdat Turkye die een Navoland was wat nie magte vir die Navo-operasies in Libië beskikbaar wou stel nie.

Turkye is bekommerd dat die Siriese konflik na sy grondgebied kan oorspoel, aldus sy minister van buitelandse sake, Naci Koru. Die afgelope twee dae het 1 400 vlugtelinge uit Sirië die grens oorgesteek wat die totaal nou al op 29 000 te staan bring.

Sirië se kommer lê egter waarskynlik elders. Na die Amerikaners tydens die Saddam-bewind ‘n vliegspergebied oor Irak se Koerdistan afgekondig het, het terreuraktiwiteite van dié gebied af in Turkye toegeneem. Turkye het al verskeie kere met tenks en vegvliegtuie op basisse van die Koerdiese PPK toegeslaan. Die Siriese Koerdiese bevolking is juis hoofsaaklik afstammelinge van Koerde wat weens die Koerdiese, Armeense en Assiriese volksmoorde aan die hand van die Turke uit Turkye gevlug het. Met die eeuherdenking van dié volksmoorde wat oor vyf jaar gevier word, is dit te verstane dat Turkye senuagtig is.

Intussen het Navo, by monde van sy sekretaris-generaal, Anders Fogh Rasmussen, aangedui dat daar geen sprake van militêre ingryping deur Navo in Sirië is nie, maar tog die VN se versuim om ‘n resolusie aan te neem, as ‘n fout beskryf. Dit is nie duidelik of Navo hierdeur die Turke maan om nie op eie houtjie in sy onstuimige buurland in te meng nie. V olgens ander uitsprake nader die Siriese kwessie nou ‘n soortgelyke situasie as die Balkan-Kosovokrisis.

Intussen lyk dit wel of ‘n klimaat vir ingryping geskep word deur toenemende berigte oor Siriese vergrype, soos om kinders as skilde te gebruik, dat onherstelbare skade aan argeologiese skatte aanrig word deur die bombardering van burgerlikes wat in die ruïnes gaan skuil, en ook nog ander berigte oor die mishandeling van kinders en gevangenes.
Herman Toerien