Subscribe by Email

Gaan Kalifornië binnekort skud dat dit hik?

Doemprofete kry skietgoed

Sommige wetenskaplikes is van mening dat Kalifornië al heeltemal oor sy “skedule” vir ‘n groot aardbewing is. Ander verskil daarvan.

‘n Groep doemprofete wil dit hê dat Kalifornië in 2012 ‘n grote gaan beleef. Daar is selfs webwerwe geskep om mense “op die hoogte van sake” te hou.

Soveel doemprofete, soveel menings is daar oor hoe erg dié grote gaan wees. Die ergstes meen Kalifornië – of dan die deel wes van die San Andreasfout, gaan van die vasteland losskeur, en ander meen Kalifornië gaan onder die see verdwyn. Death Valley is immers reeds onder seespieël…

‘n Skudding van M5.9 (6 op die Richterskaal) en ‘n ligter maatjie in die suidelike bek van die Baai van Kalifornië is dadelik deur die doemprofete aangegryp dat die Kaliforniërs nou, as daar ‘n trein vertrek Ooste toe, daarop moet wees.

Maar as ‘n mens nie ‘n doemprofeet is nie?

Kalifornië gaan waarskynlik af en toe kwaai skuddings beleef, aangesien die kragte wat dit in die verlede veroorsaak het, steeds aanwesig is en bly.

En ja, oor ‘n paar miljoen jaar kan die Westelike deel van Kalifornië ‘n eiland wees.

Die Baai van Kalifornië is ‘n verlenging van die San Andreasfout waar die Stille Oseaanplaat en die Noord-Amerikaanse plate bymekaar verby skuur. Die skiereiland, Baja California wat aan Mexiko behoort, het juis van die vasteland “losgeskeur” maar dit was geen proses wat oornag gebeur het nie.

Trouens, tussen die plek waar die sterker aardbewings plaasgevind het, en die skynbaar eindelose aantal ligte aardbewings en trillings wat Kalifornië nou tref, is daar nou ‘n “gaping” in die “Ring van Vuur” om die Stille Oseaan.

‘n Onlangse studie, wat die Amerikaanse USGS op sy webwerf geplaas het, luis dat veraf aardbewings (om die Ring van Vuur) wel die vermoë het om die San Andreas effens te laat skuif. Trillings is die gevolg.

En om die Ring van Vuur wikkel en woel dit. Bykans elke uur word ‘n aardbewing van M2.5 of sterker aangeteken, en sommiges is sterk. Op die kaart hierby kan gesien word waar die konsentrasies is: skiereiland van Alaska, By Honshu in Japan, by die Kermadec-eilande noord van Nieu-Seeland, en die jongste ruk, in Sentraal-Amerika.

Wat die doemprofete opgewonde sal maak, is dat die Kermadec-eilande, Honshu en Alaska-aardbewings deur baie sterk aardbewings ingelui is. Kalifornië en Sentraal-Amerika het nie nou sulke “voorbodes” gehad nie.

Wetenskaplikes – onder meer in Kalifornië – doen werklik baie moeite om te probeer vasstel wanneer ‘n grote gaan kom. Diep boorgate word op strategiese plekke geboor en die spanning, en rigting van spanning, word op verskillende dieptes gemeet. Talle ander moontlike aanduiders word ook dopgehou.

En nee, al sal geen verantwoordelike seismolooog waag om te sê ‘n grote is vir Kalifornië op hande nie, sal niemand waarskynlik ook waag en sê daar gaan nog lank gewag word nie – want aardbewings laat hulle nié so voorskryf nie.

Daar is heel waarskynlik ander plekke waar die spanningsvlak nader aan breekpunt vir ‘n lekker grote is – en mens kyk hier bietjie weg van die Ring van Vuur, waar daar die laaste tyd relatief min aardbewings was, selfs kleintjies. Maar waar word die appel, by wyse van spreke, rypgedruk? Aan die kus van Portugal? In die Indiese Oseaan? In die Andes in Peru wat wel deel van die Ring van Vuur is.

Of dalk sommer in Suid-Afrika? Veral met die half vreemde reekse aardbewings anderkant Upington en in die see langs die Suid-Ooskus. Gelukkig is die kanse hier taamlik skraal vir ‘n grote, aangesien die tektoniese plate weg van die vasteland skuif.

Herman Toerien