Subscribe by Email

Gaan goud $2 000 toets?

Jare gelede het Suid-Afrika se meneer Goud, die destydse minister van Finansies, dr. Nic Diedericks voorspel dat die goudprys voor die einde van daardie jaar die $1 000 per fyn ons sou haal.

Dit het ‘n vlugtige draai bo dié merkie gemaak maar gou weer aansienlik gesak. Een van die redes vir die relatief min opgewondenheid was dat die rand destyds veel sterker as die dollar was, en die rand-inkomste nie iets besonders was nie.

Vanoggend meld Goldprice.com dat die prys van goud van Januarie verlede jaar van sowat ‘n $1 000 per fyn ons tot meer as $1 800 dollar per fyn ons vanoggend gestyg het. Bietjie later was dit egter $1 783.

Enkele dae gelede was die goudprys ‘n duisend dollar per fyn ons meer werd as silwer, wat in die orde van $40 per fyn ons dobber. Die afgelope twee weke het die goudprys ‘n paar keer hoër as dié van platinum gestyg, waarna platinum losgetrek het en die $2 000 per fyn ons begin toets het. Vanoggend verhandel dit teen $1 817. Na dit die afgelope week ‘n redelike gaping na die goudprys gelaat het, het goud weer hard probeer neus voorkry.

Platinum, soos olie, is stowwe met aansienlike nywerheidsaanwending en hoe hoër dié pryse styg, hoe meer vertroue blyk dit het beleggers in die wêreldekonomie. Goud speel tradisioneel ‘n alternatiewe beleggersrol, en dien as verskansing as die meer gebruiklike staatsuitgifte en ander beleggings dreig om verliese te toon. Die goudprys se dollar as kop-af-lopie het juis momentum gekry toe die VSA se kredietgradering deur Standard & Poor afgegradeer is. Daarna het veral Duitsland en Switserland sielkundig vertroue in die wêreldekonomie geblaas, maar pas het die amptelike Duitse syfers die breëbors-uitsprake van sy minister van Finansies twee dae tevore – dat die wêreldkrisis Duitsland nie geraak het nie en dat dié land ‘n groeikoers van bo drie persent vir die jaar te wagte kan wees – vir ‘n sierlike ses gemoker – Duitsland se groei in die vorige kwartaal was 0,5% wat effektief op geen groei dui nie. Dieselfde dag blyk dit dat nog ‘n groot Europese ekonomie, dié van Nederland, presies dieselfde lot gely het, en dat Spanje se insluiting by die Piigs-lande geregverdig is met ‘n nog kariger 0,2 persent groei. Japan se ekonomie het effens gekrimp, hoewel aansienlik minder as wat na die groot aardbewing verwag is.

En soos te wagte is, vanoggend is die gouprys hoër. Hoewel goud in die juweliersbedryf gebruike het, en ‘n beperkte nywerheidsaanwending, is dit veral ‘n beleggingsverskansing. Soos ‘n miljardêr wat sy fortuin uit goud gemaak het by geleentheid gesê het: Goud is iets wat teen hoë koste uit die grond gehaal word. Daarna word dit weer in die grond gebêre en mense word betaal om dit op te pas.

Suid-Afrika produseer sowat 50 ton goud per jaar. Teen ‘n prys van meer as $57 000 per kilogram kan die sommetjie gerus gemaak word. Dis egter nie so eenvoudig nie, met ‘n groot mynhuis wat pas aangekondig het dat sy wins skerp gedaal het. Die nuwe kragtariewe en die uitkoop van ‘n Pamodzi-skag wat herkapitaliseer moet word het aan die wins gevreet.

Suid-Afrika produseer in die orde van 5 miljoen onse platinum per jaar, byna 70 % van die wêreldproduksie.

Dit kort net een krisis – wat van ‘n ekonomiese mistasting tot ‘n natuurramp kan wees, om die goudprys nou die hupstoot tot oor die $2 000 te gee. Hoewel die mynsektor se aandeel in die Suid-Afikaanse ekonomie nie meer so groot is nie, help elke bietjie. En op die oomblik reën dit goud en platinum.

Herman Toerien