Subscribe by Email

Gaan die Somaliese droogtekrisis SA ook deur nuwe vlugtelinggolf tref?

Met ‘n nuwe stroom Somaliese vlugtelinge wat Suid-Afrika binnekort kan begin bereik, het die FW de Klerkstigting ‘n verklaring uitgereik waarin die regsposisie van vlugtelinge bespreek word.

Somalië beleef die ergste droogte in 60 jaar, en berigte oor die erbarmlike lot van mense wat desperaat vlugtelingkampe in veral buurlande probeer bereik, bereik die wêreld. Volgens skatting bereik 1 77 vlugtelinge per dag Ethiopië, en 1 400 Kenia. Die vlugtelingkampe was voor die jongste stroom reeds oorvol. In een van die kampe in Kenia woon na raming meer as 380 000 vlugtelinge. Veral kinders wat die kampe bereik is ondervoed, en die sterftesyfer in die kampe is hoog.

Binne Somalië is die posisie nog moeiliker. Die radikale al-Shbab beheer dele van die land, en het tot onlangs vlugtelingkampe in die gebiede wat hulle beheer verbied. Van die noodorganisasies wat nou wel toevlugsoorde bedryf, het medisyne maar nie kos nie.

Die VN het die krisis pas as die ergste humanitêre krisis tans ter wêreld beskryf. Trouw beskryf vanoggend hoe ‘n vrou 35 dae lank gestap het om ‘n vlugtelingkamp te bereik. Haar twee seuntjies en ‘n dogtertjie het onderweg gesluit.

Hoeveel hiervan hulle uiteindelik hul oë op Suid-Afrika sal rig, is moeilik om te bepaal. Maar hier te lande kan hulle ook xenofobiese aanvalle te wagte wees, waar dit veral in die Wes-Kaap lyk of Somaliërs dikwels as slagoffers uitgesoek word. Twee Somaliërs is onlangs in Delft koelbloedig vermoor, hoewel die Suid-Afrikaanse Polisie amptelik verklaar het dat die motiewe vir die misdade onbekend is.

Die FW de Klerkstigting klop veral vir ANC-MP Maggie Maunye, voorsitter van die parlementêre komitee oor binnelandse sake wat onder meer gesê het: ““`n mens in Spanje op televisie sien hoe hulle die vlugtelinge terugstuur en hier word ons vertel van menseregte en wette…allerhande soort verskonings…hier het ons mense wat in armoede leef, mense wat werkloos is…ons het nooit ons vryheid as Suid-Afrikaners geniet nie…ons het dit ontvang in 1994 en ons het `n stroom vlugtelinge en ongedokumenteerde mense teëgekom.”

Die Stigting meen sulke opmerkings kan ‘n opruiende uitwerking hê teen die agtergrond van hoë werkloosheid en swak dienslewering.

Sy, en die ANC, het sedertdien verskoning gevra.

Adv. Jaques du Preez van die Stigting beskryf die regsposisie van die vlugtelinge soos volg:

“Die Suid-Afrikaanse Grondwet is van toepassing op alle mense wat hulself binne ons landsgrense bevind. Artikel 7(1) van die Handves van Regte verklaar duidelik dat dit `n hoeksteen van demokrasie is in Suid-Afrika. Dit vervat die regte van alle mense in die land en bevestig die demokratiese waardes van menswaardigheid, gelykheid en vryheid. Die wetgewer, uitvoerende gesag sowel as die regbank is gebind deur die Grondwet en die Handves van Regte in artikel 8(1). Alhoewel sekere regte slegs van toepassing sal wees op sekere groepe mense of begunstigdes (byvoorbeeld die reg om te stem), word byna alle regte geniet deur “almal”, ongeag of hulle Suid-Afrikaanse burgers is of nie. Die Grondwet se onderliggende waardes van menswaardigheid, gelykheid, die bevordering van menseregte en vryhede, nie-rassigheid en nie-seksisme is van toepassing op vlugtelinge.

Ons howe is baie konsekwent met die opinie dat enige iemand wat binne die landsgrense is, op die voordeel van die sogenaamde ‘universele regte’ aanspraak kan maak, of hulle nou wettig of onwettig, permanent of tydelik hier is. Wat buitelandse burgers betref is dit gevolglik onaanvaarbaar om uitsprake te maak wat kan lei tot die skending van hierdie regte. Dit wil ook blyk uit me Maunye se opmerkings dat sy gepoog het om die instroming van buitelandse burgers in Suid-Afrika sedert 1994 te blameer vir die swak sosio-ekonomiese omstandighede wat miljoene Suid-Afrikaners ervaar. Onlangse studies het die gegriefdheid van werklose Suid-Afrikaners jeens buitelanders wat hulle werkloosheid veroorsaak het deur die beskikbare werk te vat, identifiseer as `n groot oorsaak van die mees onlangse xenofobiese aanvalle. Ander studies het egter daarop gewys dat meeste buitelanders selfwerksaam is.

Wat is Suid-Afrikaners se verantwoordelikhede tenoor vlugtelinge in terme van internasionale reg?

Suid-Afrika onderskryf die Verenigde Nasies se konvensie oor die status van vlugtelinge, wat definieer wie `n vlugteling is, die regte van individue uiteensit aan wie asiel verleen is, asook die verantwoordelikhede van nasies wat asiel verleen. Lande wat die konvensie oor vlugtelinge bekragtig, is verplig om vlugtelinge in hul gebied te beskerm.

Suid-Afrika onderskryf ook die Afrika-unie se konvensie oor die spesifieke aspekte van vlugtelingprobleme, in terme waarvan `n humanitêre en nie-diskriminerende benadering gevolg moet word wanneer dit kom by die hantering van vlugtelinge.
Behalwe vir die bindende natuur van hierdie internasionale instrumente, stipuleer die Grondwet ook dat internasionale reg in ag geneem moet word met die interpretasie van die Handves van Regte.

Die instroming van onwettige vlugtelinge is `n omstrede kwessie regoor die wêreld. In Suid-Afrika is dit egter `n kwessie wat binne die raamwerk van die Grondwet aangespreek moet word. Hangende die ontwikkeling van `n duidelike beleid om vlugtelinge te reguleer sal hulle, net soos almal anders, steeds die volle beskerming van die Grondwet geniet.”

Herman Toerien