Subscribe by Email

FW Stigting se kommentaar op taalwetsontwerp

Die veeltalige aard van Suid-Afrika is so sentraal tot ons nasie se karakter dat taalregte in die Grondwet se grondliggende bepalings verskans is. Ondanks hierdie feit het die regering sedert 1994 min gedoen om gehoor te gee aan sy grondwetlike verpligtinge wat taalbeleid betref. In 2003 is ‘n omvattende Wetsontwerp op Suid-Afrikaanse Tale voorgelê wat die nasionale raamwerk vir die regering se taalbeleid sou bepaal – maar dit is sonder verduideliking herroep.

Hierdie gebrek aan optrede het daartoe gelei dat mnr Cornelis Lourens, ‘n private burger, die howe genader het om sodoende die regering te dwing om ‘n behoorlike taalwet ingevolge die bepalings van artikel 6 van die Grondwet te aanvaar . In Maart 2010 bevind die Noord Gautengse Hooggeregshof dat die nasionale regering inderdaad versuim het om hierdie grondwetlike verpligtinge na te kom en is die Minister van Kuns en Kultuur beveel om binne twee jaar die nodige wetgewing voor te lê.

Die resultaat hiervan is die 2011 Wetsontwerp op Suid-Afrikaanse Tale. ‘n Oorsig daarvan dui egter daarop dat die regering die absolute minimum gedoen het om die hofbevel na te kom en dat die wetsontwerp ver tekort skiet met betrekking tot die nakoming van die vereistes van artikel 6 van die Grondwet.

Verlede week het die Stigting kommentaar aan die Parlementêre Portefeulje Komitee vir Kuns en Kultuur voorgelê. Die waarneming is gemaak dat taalregte in die grondliggende beginsels ingesluit is aangesien hulle onontbeerlik is om aan die ander grondliggende waardes in die Grondwet beslag te gee. Menslike waardigheid is sterk gekoppel aan mense se begrip van die verdienstelikheid en waarde van die taal waardeur hulle die wêreld waarneem en uitdrukking gee aan hul innerlike sienings en menings. Gelykheid kan nie behaal word as die taal waarin mense hulself uitdruk nie gelykwaardige aansien geniet nie. Die regte wat in die Grondwet gewaarborg is, sal ernstig beperk word as die regering nie daaroor kommunikeer, asook dienste verskaf waarop mense staatmaak, in dié tale wat hulle die beste kan verstaan nie.

Die Stigting is van mening dat die 2011 wetsontwerp nie aan artikel 6 se vereistes voldoen nie, veral aangesien dit geen voorsiening maak vir die bevordering van Suid-Afrika se inheemse tale soos vereis word deur artikel 6(2) nie. Dit maak ook geen voorsiening vir die instelling van taalbeleid, soos deur artikel 6(3) vereis word, deur provinsies en munisipaliteite nie.

Die Stigting het kennis geneem dat die 2003 wetsontwerp se eerste oogmerk was om “uitdrukking te gee aan die gees en die letter van artikel 6 van die Grondwet”. Daarteenoor is die eerste oogmerk van die 2011 wetsontwerp eenvoudig “om die gebruik van amptelike tale deur die sentrale regering vir regeringsdoeleindes te reguleer en te moniteer.” Die Stigting het verder kennis geneem dat die 2011 wetsontwerp nie ‘n taalbeleid insluit nie en dat hierdie kritieke grondwetlike vereiste vir 18 maande uitgestel is. Dit blyk verder dat die beoogde taalbeleid aangeneem sal word deur publikasie in die Staatskoerant. Die Stigting is van mening dat so ‘n belangrike beleid in die Nasionale Vergadering aangeneem moet word eerder as deur blote regeringsvoorskrif.

Gevolglik het die Stigting aanbeveel dat die 2011 wetsontwerp in geheel teruggetrek en vervang behoort te word deur die 2003 wetsontwerp, met ‘n aantal byvoegings. Die Stigting het sy steun uitgespreek vir die onderliggende beginsels van die 2003 wetsontwerp maar het ook gevoel dat dit aangevul kan word deur erkenning te verleen aan die volgende regte, waar dit prakties uitvoerbaar is:

• Om te kommunikeer met, en bedien te word, in die amptelike taal van keuse deur die nasionale, provinsiale en plaaslike regering;
• Om die amptelike taal van ‘n persoon se keuse te gebruik tydens hofverrigtinge; en
• Dit almal se reg is om in die amptelike taal of tale van hul keuse onderrig te ontvang in openbare akademiese instellings.

Die Stigting het ‘n taalbeleid voorgestel in terme waarvan elke staatsdepartement op nasionale vlak twee amptelike tale sal aanneem op die grondslag dat een van daardie tale Engels sal wees. Een derde van departemente sal dan hul tweede taal kies vanuit die isiXhosa, isiZulu, isiNdebele, siSwati groep, een derde vanuit die Sepedi, Sesotho, Setswana groep en een derde vanuit die Afrikaanse, Tshivenda en Xitsonga tale. Elke nasionale departement sal by hul provinsiale kantore Engels en die taal wat mees algemeen voorkom in die provinsie, gebruik.

Elke provinsiale regering sal Engels asook die taal – of tale – wat mees algemeen gebruik word in hul provinsie as die tweede taal of as hul dit sou verkies, derde amptelike taal, gebruik. Elke munisipaliteit sal Engels asook die taal – of tale – wat meeste gebruik word in hul stede, gebruik. In alle gevalle sal aanstellings asook bevorderings op alle vlakke van die regering vaardigheid in die relevante tale vereis. Alle vlakke van regering sal ook insentiewe aan amptenare bied om bykomende tale aan te leer.

Bykomend tot die daadwerklike verskansing van Suid-Afrika se tien inheemse tale as tale van die regering, het die Stigting ook die volgende stappe aanbeveel om sodoende daardie tale se verdere gebruik en ontwikkeling te bevorder. Die regering behoort – in samespreking met die relevante universiteite – ‘n universiteit of universiteite aan te stel wat die gebruik en ontwikkeling van elk van Suid-Afrika se inheemse tale bevorder met die oogmerk om dit te ontwikkel as akademiese tale van onderrig, die oplei van onderwysers, joernaliste en taalpraktisyns in die betrokke tale asook ontwikkeling van literatuur, boeke en publikasies.

Die Stigting het aanbeveel dat monitering soos vereis deur artikel 6(4) van die Grondwet onafhanklik gedoen behoort te word deur die Pan Suid-Afrikaanse Taalrad (PANSAT) wat alreeds ‘n soortgelyke funksie het in terme van daardie instelling se funderende wetgewing. PANSAT behoort ook verder versterk te word deur die stigting van ondergeskikte taalrade om die gebruik en ontwikkeling van elkeen van Suid-Afrika se inheemse tale te bevorder. Die Stigting het ook aanbeveel dat ‘n Taalombudsman op die been gebring word binne PANSAT se bestaande raamwerk.

Ten slotte het die Stigting aanbeveel dat die relevante wetgewing aangepas behoort te word om te verseker dat elkeen die reg het om onderrig te ontvang in die taal of tale van hul keuse in openbare akademiese instellings binne artikel 29(2) van die Grondwet se raamwerk. Daar is aanbeveel dat alle provinsiale tale in skole aangebied behoort te word tot op Gr 12-vlak en dat moedertaal-onderrig, waar prakties uitvoerbaar, gebruik word vir die eerste 6 jaar van onderwys. Die Stigting het ook ‘n behoefte uitgespreek dat die inheemse tale spesiale beskerming moet geniet teen die oorweldigende impak van Engels, as daardie tale sou wou oorleef, as tale van onderrig.

3 Responses to FW Stigting se kommentaar op taalwetsontwerp

  1. Johan

    Desember 21, 2011 at 9:20 am

    Adriana

    Met groot respek, ek dink jou kommentaar op die artikel (wat ook uiterste onoordeelkundigheid aan jou kant toon) en bitsige persoonlike aanval op Mnr Steward, is misplaas en toon ‘n merkwaardige mistasting van waaroor dit eintlik gaan.

    In kort, jy sit die pot geheel en al mis.

    Eerstens. Die wetsontwerp is ‘n baie tegniese stuk wetgewing. Vanwee die tegniese aard asook bewoording daarvan (die teks daarvan is ook slegs in Engels gepubliseer), noodsaak dit ‘n baie tegnies, direkte en legalistiese vertaling.

    Tweedens. Neem in ag dat die artikel, wat bloot poog om die lesers daarvan ‘n idee te gee van wat die Stigting se kommentaar is betreffende die wetsontwerp, bevat moontlik direkte gedeeltes wat ingesluit mag wees in die Stigting se submissies aan die betrokke Parlementere Portefeulje Komitee vir Kuns en Kultuur, en dit word legalisties gedoen en in regstaal, want as die komitee moontlik saamstem met ‘n submissie, word dit bygevoeg tot die wetsontwerp, en wetsontwerpe word tog in regstaal geskryf en is legalisties van aard.

    Sou jy steeds sukkel om die artikel te verstaan in Afrikaans (terwyl jy studeer vir jou meesters), stel ek voor jy lees die Engelse weergawe op hul webwerf of alternatiewelik, gee instruksies aan ‘n prokureur of advokaat om dit vir jou in eenvoudige taal, wat jy verstaan, te verduidelik.

    Groete
    Johan

  2. Herman

    Desember 21, 2011 at 8:36 am

    Hallo Adriana
    Ek verwys jou kommentaar na mnr. Steward. Uit persoonlike ervaring weet ek dit is soms baie moeilik om vaktaal in populêre artikel-taal om te sit – trouens, ek dink die mense wat dit kan doen is dun gesaai, en in die konteks van SEB-vereistes en algemene geldelike druk, is hierdie kundiges dikwels onindiensneembaar. Selfs al kan hul kundigheid dan baie billik bekom word, beteken dit nogtans dubbele uitgawes. (Dit is juis daarom vir my ‘n plesier om koerante soos Trouw en die Christian Science Monitor te lees wat nie die probleem het nie).
    Wat egter belangrik is hier – presies dieselfde verklaring is ook in Engels uitgestuur en in Afrikaans herhaal – ‘n moeite wat selfs van die grootste politieke partye wat baie Afrikaanse ondersteuners en meer geld het nie wil / kan doen nie. Dit is ook die hoofrede hoekom sulke partye selde op hierdie forum gesien word, al is herhaalde uitnodigings gestuur dat dit gedra sal word as van hul ondersteuners bereid sal wees om dit te vertaal of in Afrikaans oor te skryf.
    ‘n Belangrike oorweging by die plasing hiervan is dat dit genoeg agtergrond verskaf aan ander Afrikaanse organisasies om te weet daar moet op die wetsontwerp gereageer word, en teen wanneer.
    Miskien omdat ek self Staatsreg gedoen het en ook ‘n paar nader regskwalifikasies het, het die vaktaal vir my by die deurlees nie so in die oog gesteek nie.
    Ek hoop werklik dat http://www.koerant.co.za ook genoeg ander leesstof voorsien wat makliker lees en tog relevant en nodig is. Persoonlik probeer ek via die Herrie se kerrie’s en Blik Oor-rubrieke ‘n wyer leserskeuse hier te plaas – en ek is net so ‘n vrywillige, onbetaalde deelnemer soos enige ander deelnemer hier.
    Dankie vir die reaksie
    Herman

  3. Adriana Stuijt

    Desember 21, 2011 at 8:17 am

    Ek het ‘n Meestersgraad in die Regte nodig om hierdie ingewikkelde verklaring te kan ontrafel. Kan die De Klerk stigting asseblief normale taal gebruik? Ek is werklik nie beïndruk met hierdie verklaring nie: wat probeer hulle nou eintlik sê? Kommunikasie is nie werklik David Steward se hoofvak nie, is dit? Eenvoudige taal is altyd die beste, Steward.