Subscribe by Email

FW-stigting oor Vryheidsdag

Die 18de herdenking van ons eerste demokratiese algemene verkiesing op 27 April 1994 behoort ‘n geleentheid vir viering te wees. Hierdie jaar egter is die meer gepaste reaksie selfondersoek. Op geen tydstip sedert 1994 was daar meer rede tot kommer oor die toekoms van ons grondwetlike demokrasie as juis nou nie.

Op 5 Maart het die ANC sy voorneme aangekondig om met sekere elemente van die histories grondwetlike verdrag waarop ons nie-rassige demokrasie gegrond is en waarop ons toekoms rus, weg te doen. Die ANC het gesê dat die grondwetlike ooreenkomste wat bereik is tussen 1990 en 1994 niks meer as ‘n “eerste oorgang” was nie. Die ANC het gesê dat hierdie eerste oorgang “‘n toepaslike raamwerk vir politieke emansipasie, naamlik ‘n politieke oorgang was, maar dat dit onvoldoende en onvanpas is vir die maatskaplike en ekonomiese oorgangsfase.”

Blykbaar het voormalige President Nelson Mandela nie die 1996 Grondwet as ‘n oorgangsdokument beskou nie. Op 8 Mei 1996, na die aanvaarding van die nuwe Grondwet, het hy gesê dat die grondliggende beginsels “onveranderlik” was. Hy het die Grondwet beskryf as “ons nasionale siel, ons verdrag met mekaar as landsburgers, ondersteun deur ons hoogste aspirasies en ons diepste vrese”. Hy het ook ‘n belofte gemaak dat “nooit, nooit weer sal die wette van ons land ons mense uitmekaarskeur as landsburgers of hul onderdrukking en verdrukking wettig nie.”
Daar is ook kommerwekkende aanduidings dat die regering daaraan dink om die magte van die howe om die grondwetlikheid van wetgewing en uitvoerende gesagsoptrede te beoordeel, te beperk. Op 8 Julie 2011, het President Zuma gewaarsku dat, “die magte wat aan die howe toegedeel is kan nie belangriker wees as die magte wat ‘n resultaat is van die administratiewe mandaat wat toegeken is deur ‘n algemene verkiesing nie.”

Hy het bygevoeg dat die regering se politieke opponente nie daartoe instaat moet wees om die gewildheid van die verkose regering te ondermyn deur die howe te gebruik om die land “gesamentlik te regeer nie.” Hy het later blatant verklaar dat die regering die magte van die Grondwetlike Hof wou hersien.

Die duidelike oogmerk is om die magte van die howe om wetgewing en uitvoerende gesagoptrede te hersien, te verwyder. In ‘n artikel op 16 April het adv Ramathlodi, Adjunk-Minister van Korrektiewe Dienste en ‘n lid van die Regterlike Dienskommissie , geskryf dat “regterlike inmenging op ander terreine (van regering) moet net in uitsonderlike en beperkte gevalle plaasvind – indien ooit.”

Die eenvoudige realiteit is dat indien die howe hul magte van oorsig verloor, die Grondwet en die Handves van Menseregte tot impotente stukke papier verander sal word wat geen rol sal speel om die magte van die uitvoerende gesag en die meerderheid in die Parlement aan bande te lê nie. Ons sal nie meer ‘n grondwetlike demokrasie wees wat ondergeskik aan regsoewereiniteit is nie.

Ons moet ook diep besorgd wees oor die aftakeling van die rol en onafhanklikheid van sleutelinstansies soos die Nasionale Vervolgingsowerheid (NVO) en die Regterlike Dienskommissie.

Die Regering het deurlopend ingemeng met die onafhanklikheid van die NVO. Dit het adv Vusie Pikoli afgedank omdat hy presidensiële bevele verontagsaam het om aanklagte teen voormalige Polisie Kommissaris Jackie Selebi te laat vaar. Die Grondwetlike Hof het gevolglik adv Menzi Simelane se aanstelling as hoof van die NVO ter syde gestel omdat hy nie ‘n bekwame en gepaste persoon was nie. Meer onlangs, was daar aanhoudende en gegronde aantygings van hoë vlak politieke inmenging in die NVO se besluit om bedrog en moord aanklagte teen Generaal Richard Mdluli, Hoof van die Polisie se misdaadintelligensie afdeling, te laat vaar.

Daar is groeiende kommer oor die politisering van die Regterlike Dienskommissie. Kritici beweer dat die RDK uitermate konsentreer op ras en politieke lojaliteite van regterlike kandidate, en nie aandag daaraan gee of hulle geskik en gepaste kandidate is met genoeg ervaring en onberispelike integriteit nie.

Die media, burgerlike samelewing en COSATU is bekommerd dat die Wetsontwerp op Beskerming van Staatsinligting toegang tot regeringsinligting oor korrupsie en wanbestuur drasties sal verminder. Hulle vrees dat dit ‘n beperkende uitwerking op vryheid van uitdrukking en ondersoekende joernalistiek sal hê.

Daar is ander redes vir selfondersoek.

• Daar is nie vooruitgang gemaak met die bevordering van gelykheid in ons samelewing nie.
• Ons het nie behoorlike onderwys aan die meerderheid van ons kinders verskaf nie.
• Meer as 35% van ons mense is werkloos, insluitend 70% van ons jeug.

Ons gebrek om vordering te maak op hierdie kritieke gebiede is nie die skuld van die Grondwet nie. Daar is niks in ons Grondwet wat in die weg staan van sukses met maatskaplike en ekonomiese transformasie nie. Die problem lê in onvanpaste beleid en ondoeltreffende dienslewering, nie in enige basiese gebrek binne die Grondwet nie.

Met hierdie dreigende uitdagings wat ons in die gesig staar, moet ons reaksie nie een van wanhoop en neerslagtigheid wees nie. Gedurende die afgelope 25 jaar het ons as Suid-Afrikaners veel erger situasies beleef en het ons die vermoë getoon om oplossings vir die mees ernstige uitdagings te vind.

Ons reaksie moet eerder wees om onsself weereens te verbind tot die waardes en visie in ons uitstekende Grondwet. Ons moet ons pogings verdubbel om ‘n samelewing te bou wat op menswaardigheid, gelykheid, menseregte en vryheid gegrond is. Ons moet aandring op nie-rassigheid en geen diskriminasie op grond van geslag nie. Ons moet alles in ons vermoë doen om ons veelpartystelsel van regering te behou wat op aanspreeklikheid, reaksie op behoeftes en deursigtigheid gegrond is.

Die belangrikste is dat ons moet verseker dat die Grondwet die oppergesag bly en dat elke persoon in ons samelewing, insluitend die regering, sal voortgaan om onderhewig aan regsoewereiniteit te wees.