Subscribe by Email

FW Stigting oor regspraak

Die onlangse Appèlhof uitspraak wat Adv Menzi Simelane se aanstelling as Nasionale Direkteur van Vervolgings ter syde gestel het, illustreer the sleutelrol wat ons howe speel om die kernbepalings van die Grondwet te handhaaf. Die Simelane saak het met die integriteit en onafhanklikheid van die vervolgingsowerheid gehandel, ‘n vraagstuk wat van kritieke belang vir die handhawing van die oppergesag van die reg is.

Terselfdertyd sal die Simelane uitspraak ongetwyfeld die groeiende kloof tussen die uitvoerende gesag en die regbank verbreed. Selfs meer ernstig, sal dit verdere vrae laat ontstaan binne sekere ANC kringe oor die grondwetlike grondslag van ons gemeenskap. Baie gerespekteerde waarnemers – insluitend Regter Denis Davis – is bekommerd dat politieke vraagstukke toenemend in die howe opgelos word eerder as in die politieke arena waar dit meer behoorlik hoort. Daar bestaan werklike vrese dat indien die howe voortgaan om die ANC se wil te kortwiek, sy aanhang van die onafhanklikheid van die regsbank, en selfs ons grondwetlike ooreenkoms, mag erodeer.

In die afgelope maande het die regering ‘n aantal waarskuwingskote oor die boeg van die regbank gevuur. Op 18 Augustus het ANC Sekretaris-generaal Gwede Mantashe gewaarsku dat die Grondwetlike Hof gebruik word as opposisie vir die regering. Hy het gesê dat die regbank nie toegelaat moet word om die “funksionering van die regering te belemmer” nie en het die Grondwetlike Hof se uitspraak in die Glenister saak uitgewys as ‘n voorbeeld van die Hof se “opposisie” rol.

In die begin van November het President Zuma sy siening herhaal dat daar “’n behoefte bestaan om te onderskei tussen die areas van verantwoordelikheid van die regbank en die verkose vertakkinge van die staat, veral met betrekking tot beleidsformulering.” Volgens sy mening, “het die uitvoerende gesag, as verkose amptenare, die alleendiskresie om te besluit oor beleid vir die regering”. Hy het gewaarsku dat “die magte wat aan die howe toegedeel is, nie hoër is as die magte wat die gevolg is van ‘n mandaat wat deur die bevolking in ‘n volkstemming gegee is nie.”

Miskien die mees sielskwellende kritiek van die regbank en die Grondwet het aan die begin van September in ‘n artikel van adv. Ngoako Ramathlodi, Adjunk-minister van Korrektiewe Dienste – en ook ‘n lid van die Regterlike Dienskommissie, verskyn.

Ramathlodi het beweer dat die balans van magte tydens die grondwetlike onderhandelinge die ANC gedwing het om fatale toegewings te maak. Gedurende die onderhandelinge het die “regime” elemente van politieke mag aan die swart meerderheid afgestaan, maar het aansienlike mag van die wetgewende en uitvoerende gesag weggeskuif en in die regbank, Hoofstuk 9 instellings en burgerlike samelewing gesetel. Die gevolg is dat “die swart meerderheid leë politieke mag geniet terwyl die magte teen verandering seëvier in die ekonomie, regbank, openbare mening en burgerlike samelewing.”

Blanke ekonomiese belange het hul mag gebruik om inisiatiewe wat op fundamentele verandering gemik is, te kortwiek. Hulle het die transformasie van die regbank belemmer deur die belangrikheid van geslag en kleur af te water en het die Regterlike Dienskommissie se legitimiteit verminder deur sy besluite stelselmatig aan regterlike oorsig te onderwerp. Blanke belange het deurlopend regeringsbeleid in die howe betwis “waar die magte teen verandering steeds relatiewe leierskap handhaaf.” In ‘n subtiele manifestasie van rassisme, het hulle die swart-beheerde openbare sektor by elke geleentheid “as ondoeltreffend, korrup en nie agtenswaardig nie” beoordeel.

Hierdie stygende gety van kritiek het aanleiding gegee tot die aankondiging dat die regering ‘n “hoog aangeskrewe navorsinginstansie” gaan aanstel om die “transformasie van die regstelsel en die rol van die regbank in ‘n ontwikkelingstaat” te ontleed. Die doel sal wees om te verseker dat die “regbank konformeer met die transformasie mandaat soos in die Grondwet beoog”; om toegang tot die howe te ondersoek; en “om die onafhanklikheid van die regbank, asook die uitvoerende gesag en die parlement, te bevestig met die doel om interafhanklikheid en interaksie te bevorder wat nodig is om die transformasie doelwitte, soos beoog deur die Grondwet, te bereik”.

Duidelik sal die sentrale doel van die beoogde“ontleding” wees om die Uitvoerende Gesag se mening te onderskryf dat dit “die alleendiskresie het om te besluit oor regeringsbeleid”; dat die alles oorheersende oogmerk van die Grondwet ‘transformasie’ is; en dat “die skeiding van magte beteken dat ons die oortreding van een arm van die Staat op ‘n ander se terrein moet ontmoedig”.

Dit is moeilik om die voorgestelde inisiatief as enigiets anders te sien as ‘n duidelike waarskuwing aan die regbank: eerstens, dat dit voortaan die Grondwet moet interpreteer in ooreenstemming met die regering se transformasie ideologie – en tweedens dat die regbank streng aan sy kant van die skeiding van magte heining moet bly wanneer dit kom by besluite om die grondwetlikheid van regeringsbeleid te hersien.

In sy Strategie en Taktiek dokumente verbind die ANC hom tot “die versterking van die greep van die demokratiese beweging [d.w.s. die ANC] op staatsmag, en om die staatsmasjinerie te transformeer om die doelwit van sosiale transformasie te dien. Die hefbome van staatsmag sluit in die wetgewende magte, die uitvoerende magte, die staatsdiens, die veiligheidsmagte, die regbank, parastatale instellings, die openbare uitsaaier, ensovoorts. Beheer deur die demokratiese magte beteken dat hierdie instellings behoort te funksioneer op die basis van die voorskrifte van die Grondwet; dat hulle deur nuwe doktrines gelei moet word [d.w.s. die ANC se Nasionale Demokratiese Rewolusie]; dat hulle in hul samestelling die nasionale demografie van die land moet reflekteer; en dat hulle onderdanig moet wees aan die nuwe orde [onder heerskappy van die ANC].” [My kursiewe.]

In die Strategie en Taktiek dokumente verbind die ANC homself tot “die fundamentele bepalings van die basiese wette van die land, wat ooreenstem met sy eie visie van ‘n demokratiese en regverdige gemeenskap.” Dit doen egter so “binne die konteks van die regstelling van die historiese ongeregtighede van apartheid” – m.a.w. binne die raamwerk van die transformasie-ideologie uitgedruk in die Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR).

Ons Grondwet verwyder nie gesag van die staat, soos adv. Ramathlodi beweer nie. Dit vergun die Uitvoerende Gesag die volle reeks magte soos geniet deur alle demokratiese regerings regoor die wêreld. Dit beskerm egter die regte en vryhede van landsburgers, die media en burgerlike samelewing teen die toenemende bedreiging van deurdringende staatsbeheer. Dit doen so deur vryheid van spraak, vryheid van assosiasie en, bo alles, vrye en onafhanklike howe te beskerm.

Die regering verloor nie so baie hofsake as gevolg van ‘n blanke/liberale sameswering nie, maar eerder omdat sy beleidsbesluite so dikwels ongrondwetlik is. Hulle is ongrondwetlik omdat hulle gebaseer is op die ideologiese, hegemonistiese, en ras-gegronde bepalings van die NDR en nie die nie-rassige en ware demokratiese beginsels van die Grondwet nie.

Een ding is duidelik: ons moet werklik met mekaar praat.

Dave Steward